’n Groot eer het Ethan Voigt (9), ’n leerder van die Laerskool Wesbank, te beurt geval toe hy gekies is om as vlagdraer op te tree tydens die toets tussen die Springbokke en die Wallabies op Saterdag, 29 September, in Port Elizabeth. Ethan, wat deur Spur gekies is om die Springbokvlag te dra toe die Springbokke op die veld gedraf het, sê dit was ’n wonderlike ervaring, en dat hy baie dankbaar is vir die geleentheid. (Foto verskaf.)
■ Weet u, liewe leser, vanoggend 9 Oktober toe ek so oor ’n uitgedroogde tuin kyk wat eens op ’n tyd lowergroen was, toe pak ’n hartseer my en ek kom tot die besef dat dit verskriklik droog is in ons Klein Karoo. Ek het net daar op daardie verdroogde, dooie grasperk op my knieë gegaan en die Here wat alleen reën kan maak, gevra om ons dorp en omliggende dorpe te seën met oorvloedige reën. Kom ons almal doen dit elke dag van Oktober. Maar eers moet ons ons bekeer tot Hom die Here, en dan belowe Hy mos dat Hy dit sal laat reën.
■ Hoe wil bruinmense/kleurlinge genoem word? Wie het die woord “sogenaamd” ge-coin en hoekom? Stuur sms’e asb, want daar is verwarring hieroor: 1. Kleurlinge; 2. Bruinmense; 3. Enige van die twee; 4. Enige van die twee met die woord “sogenaamd” vooraan; 5. Enige ander? Dankie, Jan Publiek
■ Daar was vandeesweek oorweldigende reaksie op die facebookblad, Oudtshoorniete staan saam, om dankbaarheid te betoon aan die twee vriendelike mense, me Schutte en mnr Steyn, wat verlede Vrydagaand sop aan wagtende pasiënte in die wagkamer van Oudtshoorn Hospitaal uitgedeel het. Hulle reik glo weekliks op so ’n wyse na hul naaste uit. God seën julle twee engele.
■ Kan die burgemeester van Oudtshoorn vir ons via Die Hoorn sê wie van sy raadslede gebruik gefiltreerde gekoopte water vir koffie of tee of in kos, en wie gebruik die ongefiltreerde water uit ons krane wat die meerderheid inwoners moet gebruik omdat ons nie die gefiltreerde water kan bekostig nie. Sluit uself by die opname in, asb. Desmond Windvogel
■ Kan die buurtwaggroepe asb ’n ogie hou oor wie so vullis mors tussen Vrydae en Maandae op Wesbank se sypaadjies. Iemand moet iets sien sodat hierdie besoedeling van die omgewing kan stop.