Gehoorsaam net die padreëls

Die talle ongelukke en byna-onge­lukke op Oudtshoorn het ’n baie eenvoudige oplossing – gehoorsaam net die padreëls.

Dit wil voorkom of bestuurders dikwels met ’n soort ongeërgdheid of roekeloosheid nie voorsien wat kan gebeur as hulle padreëls oortree soos deur te vinnig om draaie te ry en oor verkeersligte of stoptekens te ry.

Die afgelope dae was daar twee botsings wat ernstige beserings en groot skade tot gevolg gehad het.

Die skerp draai by die kanaal by die Oudtshoorn Stasie is deesdae verskeie kere per week die toneel van ’n ongeluk. Dit is ’n bedrieglike skerp draai as ’n mens van die Diereskut se kant af op die Rooiheuwelpad kom, veral teen ’n hoë snelheid.

Daar beland so dikwels voertuie in die kanaal dat Oudtshoorniete al op Die Hoorn se Facebook-bladsy begin spot het oor die gereelde “kanaalresies” op daardie pad.

Woensdag se ongeluk by die kanaal waar ’n vragmotor met 37 beeste by die draai omgeslaan het, was ’n toneel wat omstanders geskok het.

Verskeie van die beeste moes van kant gemaak word.

So ook was Dinsdag se toneel waar ’n jong vrou van Oudts­hoorn op haar bromponie deur ’n vragmotor van ’n bestuurskool raakgery en ernstig beseer is. Na bewering het die vragmotor nie by ’n stopteken stilgehou nie.

Die soort ongelukke moet ons almal laat nadink.

Dit is nodig dat ouers en skole dit op kinders se harte moet druk dat padreëls belangrik is. Dit is egter ook belangrik dat ouers dit deur hul voorbeeld moet wys.

Die afgelope week het Die Hoorn aanskou hoe ’n vrou in die linkerrybaan van Baron van Ree­destraat parkeer, haar motor sluit en doodluiters wegstap.

Ons sien gereeld inwoners wat voor motors oor verkeersligte stap (groen vir die motors).

Daar is talle mense wat spog hoe hulle op paaie oor wit sperstrepe by ander voertuie verbyjaag. ’n Leser het juis verlede week vir ons videos, wat op die Oudtshoorn/George-pad met ’n “dashcam” geneem is, gestuur van ­voer­tuie wat ondanks sperstrepe ander voertuie verbysteek. Dit is ’n baie gereelde verskynsel op ons paaie.

Snags luister inwoners van Oudts­hoorn dikwels met die hart in die keel na jaagduiwels wat deur die dorp se strate jaag.

Wat ons bring by die belangrikheid van gereelde en sigbare wetstoepas­-sing. Met soveel wat nie padreëls ge­hoorsaam nie, is sigbare wets­toepas- sing noodsaaklik.