Doen jou plig en maak seker jy is reg geregistreer

Liesel le Roux

Die komende naweek is die enigste geleentheid wat Suid-Afrikaners nog het om voor die provinsiale en nasionale verkiesing later vanjaar as kiesers te registreer.

Kiesers wat nie seker is oor hul registrasie nie, kan die naweek ook gebruik om by hul stemlokale te gaan seker maak of hulle geregistreer is om te stem.

’n Verkiesing word eintlik as’ ware tydens registrasie gewen, omdat diegene wat nie geregistreer is nie uit die aard van die saak geen invloed op die uitslag van ’n verkiesing kan hê nie.

Die Hoorn glo dit is belangrik dat stemgeregtigdes registreer en deelneem aan die besluitneming oor hul land.

Ons wil inwoners van ons streek aanmoedig om die naweek die verantwoordelike ding te doen en seker te maak jy het later vanjaar ’n sê in die toekoms van jou provinsie en land.

Dit is belangrik dat Suid-Afrika­-ners in die komende verkiesing stand­punt moet inneem teen korrupsie en swak regering. Ons word tans daagliks ontnugter oor die ernstige korrupsie binne regeringstrukture wat tydens Angelo Agrizzi se getuienis voor die Zondo-kommissie na vore kom. Ons almal weet wat die Guptas aan die land gedoen het. Hoe dit ons stem gaan beïnvloed, is elkeen van ons se eie besluit, maar deur te re- gistreer, gee ons onsself die kans om ons stem te laat geld.