Dié drom is nie jou stortingsterrein
EK verwys na ’n brief wat ek ’n jaar gelede in Die Hoorn geplaas het in verband met die storting van tuinvullis in die Luscombestraat-park.
Dis duidelik dat die persoon wat daarvoor verantwoordelik is, nie kan lees nie of te suinig is om Die Hoorn te koop.
Die vullisdrom in die park is nié daar om as jou private stortingsterrein te dien nie. Ek sluit ’n foto in van die drom met die vullis wat rondom gestrooi is.
Die munisipale vullisverwyderaars het reeds vier keer by die hoop vullis verbygery en slegs die huishoudlike vullissakke daarnaas opgetel.
Oproepe na die wyksraadslid om die drom te laat verwyder val op dowe ore. Dit is dieselfde DA-raadslid wat nou aanspraak maak op my stem.
– GD Haasbroek, Oudtshoorn
