Politieke woelinge
Verlede week was ons koerante weer vol van die politieke woelinge in ons dorp.
Die interessantheid hiervan is dat dit nie ons plaaslike politieke leiers is nie, maar besoeke en uitsprake deur die provinsiale leiers van die ANC en Good.
Cameron Dugmore, Wes-Kaapse leier van die opposisie, speel die politieke bal en besoek hul kameraad by die museum. Hy toon geen respek teenoor ons eerste burger en sy raad nie. Hierdie soort politieke magsvertoon van hom behoort tot die verre verlede.
Die leier van Good dring weer daarop aan dat die speaker die onderburgemeester moet ondersoek sonder ’n amptelike klag op sy tafel.
Hy weet nog nie dat jy onskuldig is tot die hof jou skuldig bevind nie. Die klaer moet bewyse bring en daar bestaan die moontlikheid dat eise vir karakterskending kan volg indien die hof hom onskuldig bevind
Waarom dring hy nie daarop aan dat die speaker die hofskuld van raadslede invorder nie?
Hierdie is alles maar net pogings om die koalisie te laat ontbind en weer in beheer te kom.
Dit is na ’n lang tyd dat ons dorp onder die bekwame en professionele leiding van ons burgemeester en koalisievennote regeer word. By die ANC en sy vennote gaan dit myns insiens oor mag en posisies en kan die dorp nie bekostig om hulle weer aan bewind te sien nie. Met hulle wag daar vir ons ’n donker Oudtshoorn.
– Hoopvol van die Hoorn