Briewe / Letters

Rivierbuurt nou af na rommelstatus

Daar is ’n verskil daartussen om net te kla en om te verskil van ander se sie­-nings. As jy net kla, het jy nog nie aan iets beter gedink nie, maar as jy verskil, het jy al aan ’n alternatief gedink.
Die kunste moet vermaak, maar sy belangrikste funksie is om debat te sti­muleer en gesprekke te ontketen, aldus Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK (Krit, 8 April 2017).

Dit het nodig geword om die debat huis toe te bring en dat inwoners positiewe voorstelle moet maak.
Ek het vanjaar geen gesprekke gesien oor omgewings­aangeleenthede nie, alhoewel ons geeërd is om die fees binne-in ’n reservaat aan te bied. Voordat enige besluite geneem word, moet ons vir onsself sê: Stem dit ooreen met die reëls in ’n reservaat? Dan sal daar nie klip­pe gepak word nie, want Oudts­hoorn Kuns Wen, maar die omgewing verloor.

Dié kuns kon op voorwerpe soos herwinningsdromme aangebring word, wat meer impak sal maak en elke jaar nuwe positiewe spreuke en kuns kan bevat.

Baie geluk, die teaterbywoning en gehalte verbeter elke jaar en Baron van Reedestraat het gelukkig karakter wat die kuns daar goed laat lyk. Maar die sogenaamde Rivierbuurt was die swakste in 23 jaar. Boonop word nuwe fees­gangers onder ’n wanindruk gebring met die naam, want die rivier loop nie eers deur die Rivierbuurt nie.

Die St Johnstraat-velde word vir die fees gebruik en swak terug besorg. Ek het op 3 Mei daar ’n halwe krat draad opgetel; daar lê stukke planke, stom­-pies, plastiek, ens. Die spekboomtakke wat by ’n eetsitplek as dekor gedien het, is weggegooi saam met die houtskaafsels wat oorgebly het. Ten minste kon die spekbome langs die heining by St Johnstraat geplant word en die houtskaafsels om die jong bome gegooi word vir vogbewaring.

Die gedeelte van die Rivierbuurt wat op die De Jager Sportstadion val, lyk myns insiens soos kampe waar geblikte leeus aangehou word. Die tydelike hei­nings kan oos van die rivier aangebring word, want die rivier moet die fokuspunt wees. Nog ’n voorstel is opslaankiosks wat versier en deur die KKNK verhuur kan word langs wandelpaadjies in plaas van die koskaravane.

Die atmosfeer vir St Johnstraat kan nie swakker wees nie. Aurona van Nostalgie Restaurant maak sulke lekker kos, maar wie wil daar op ’n olierige sypaadjie op skoolbanke sit en eet!
Strate is ook vir karre – die plaaslike handelaars kan hul karre daar uitstal.

Die wit tente-gedeelte met die opblaas-speelpark-Coke-uitstalling en rond­omtalie langsaan breek die hele karakter van die sogenaamde Rivier­-buurt. Wat van tradisionele speletjies met innovasie waaraan ouers ook kan deelneem?

Jaag die sersant-majoor wat die tente opgerig het weg! Plaas die tente skuins met versierde opslaankiosks tussen-in mét kronkelpaadjies (vir die tiere met die biere).
Kan jy glo Haydee Muller (boorling van Oudtshoorn) van RSG se kamp­­- vuurstories was sonder ’n kampvuur. Daar kan ’n tent opgeslaan word met vure wat buite brand vir atmosfeer.

Ek weet nie hoekom maklike goed moeilik gemaak word nie. Die fees­gangers word ook die voorreg ontneem om te leer herwin. Na 23 jaar word rommel nog alles in een drom (sien foto) gegooi en na tydelike stortings­terreine naby die ovaalbaan geneem waar werkers van die herwinningsaanleg dit moet uitgrawe sodat dit herwin kan word. Plaas eerder vier dromme op strategiese plekke wat versier is met spreuke en laat feesgangers alles in aparte houers gooi vir die herwinningsaanleg om te kom haal.
– Katot Meyer, Oudtshoorn

4 O magtig alles in een drom

Baie dankie, Oudtshoorn!

Ek wil Oudtshoorn en sy mense bedank vir die gasvryheid en vriendelikheid waarmee ons as kunstenaars tydens die afgelope kunstefees behandel is.

Ek moet egter Cul de Sac Gastehuis en sy personeel uitsonder. Die rus­tig­heid van die eiendom en die toegewydheid van die personeel, maak Cul de Sac ’n toe­vlugsoord gedurende die vinnige tempo van opvoerings by die fees.

Derek en Amanda is al vir jare my gashere en dit voel altyd of ek “huis toe kom” as ek daar aankom. En nou is Cyril ook daar om alles so gemaklik as moontlik te maak. Baie dankie.

Ek wil ook Manie Olivier en sy span van Knuppeldik bedank vir die heerlike kos en groot verskeidenheid.
Asseblief, wees tog volgende jaar weer daar!
– Antoinette Kellermann