‘For me? Si, Si!’

saam met Johan Strasheim

saam met Johan Strasheim

Ek en Romana toer in Italië – haar geboorteland. Italië in die herfs is pragtig en dit is ’n maklike land om te besoek.

Ons loop dié dag rond in die strate van Florence en gaan sit by ’n klein tafeltjie in ’n straatrestaurant. Florence – oftewel Firenze, soos die Italianers die Toskaanse stad noem – is pragtig.
Die eens magtige Romeinse ryk het sulke juwele agtergelaat in sy ryk en lang geskiedenis. Dit is ’n mengsel van terracotta-dakke en donker stegies met gladgeloopte klipplaveisel, argitektuur wat honderde en selfs duisende jare oud is, kunsgalerye waar jy eerstehands die werke van meesters soos Michelangelo, Da Vinci en Botticelli kan waardeer.

Die strate is besig met by vêrre die meeste motors swart in starre kontras met die Klein Karoo waar omtrent alle voertuie wit is! En dan is daar die “scooters”. Vespas. Dit lyk of daar miljoene motorfietsies is wat soos bye in golwe vooraan die motors by verkeersligte skreeuend wegtrek.

Dit lyk elke keer of daar ’n wedren aan die gang is. Elke nou en dan is daar ’n polisiekar wat roekeloos deur die spul vleg met sy loeiende sirene waar­aan niemand hulle skynbaar steur nie.
Ons is moeg geloop, ons voete is warm en ons soek iets te ete en te drinke.

Baie eetplekke se tafels is op die sypaadjies en ons gaan sit by een wat goed lyk en mooi, sagte klassieke musiek speel. Ons bestel water en ’n bottel van die “Vino de la Casa”. (Die Italiaans klink darem net meer gesofistikeerd as “huiswyn”!)

Die bottel halfwarm Chianti kom tafel toe en ons skink vir ons elkeen ’n bietjie van die geurige plaaslike rooiwyn. Dis nogal ’n ding waarvan ons hou daar – al die restaurante gebruik regtig goeie glase vir hulle wyn. Geen dikrandglase ooit gekry nie!

Ons bestudeer die spyskaart en maak somme om te sien wat kos alles in rand. Ek weet jy moet dit nie doen nie, maar dit is tweede natuur met ons swak rand.

Al die kelners is netjies geklee in swart langbroeke en spierwit baadjies. Baie elegant. Die dametjie wat ons bedien is ’n tipiese Italianer met sulke oranje-brons hare, pikswart oë en spierwit tande deur die glimlag. En natuurlik net so deels vaardig in Engels.

Ek moet myself altyd herinner dat almal nie soos ons Suid-Afrikaners ’n klomp tale behoorlik magtig is nie.

Sy kom by ons tafel aan en pluk haar notaboekie uit die sakkie vooraan haar spierwit voorskoot, reg om ons bestel­ling te neem. Romana bestel sonder moeilikheid ’n pizza, maar ek karring soos gewoonlik met baie vrae. En noodwendig is my Italiaans ernstig beperk, so dit sukkel soms.
“Ravioli sauce. Tomato?”
“Pomodore … Si, Si.”
“The ravioli … is enough?” terwyl ek met my hande beduie na hoeveel op die bord gaan wees.
Die porsies kos in Italië is beslis klei­ner as waaraan ons hier gewoond is, maar die mense is ook merkbaar maer­der! Ek moet maar daaraan ge­woond raak.

Sy kyk my aan en antwoord sonder om ’n oog te knip. Sy wys met een hand na haarself en sê: “For me? Si, Si. For you, maybe no?” en sy lag saam met Romana oor die gepaste antwoord wat my op my plek sit.
Nou ja, dan is dit so. “Ok. For me, Ravioli. Grazie.”

Met die gebruiklike “Prego, prego” draai sy om en stap kekkelend weg kombuis toe en ons twee neem maar alles in.

Langs ons sit vier luidrugtige Ame­rikaners wat met hulle oorweldigende aksent probeer om in Italiaans te bestel. Aan die ander kant is ’n kelner besig om ’n paar Oosterlinge se bestelling te probeer neem, maar dit sukkel ge­wel­dig.

Die man beduie verwoed en vra vir “warble”. Hy glimlag en kyk die kelner aan. Die kelner glimlag en kyk hom aan. Skaakmat.

Warble? Eindelik werk die kelner uit dit is water – “acqua” – en in plaas daarvan dat hy net iets bring, vra hy “Frizzante?’ en kyk hulle mekaar weer soos twee standbeelde aan.

Hierdie keer meng ’n ander kelner wat sien wat aangaan in en vra “Bubbles or plain?” en volg daar ’n verdere paar minute se “lost in translation” voor die twee by die tafeltjie hulle waterbotteltjies kry. Dis nou maar deel van rond­loop in vreemde lande met vreem­de tale!

Ons kry ons kos en dit is heerlik. Soos Romana altyd sê: “Met liefde voorberei.” Ons eet klaar, neem ’n laaste slukkie wyn en pak die avontuur verder aan met afgekoelde voete.

Italië is besonder en spesiaal – maar daar is baie goed wat kortkom. Soos geurige skaaptjops uit die Karoo, sappige boerewors, dungesnyde koedoebiltong en hardekoolhout.
En Afrikaans.