Hier oefen almal saam!

Gratis oefeninge Maandae en Woensdae

Oudtshoorniete aan die oefen by by die De Jager Sportkompleks.

Oudtshoorniete aan die oefen by by die De Jager Sportkompleks.

Van die deelnemers aan die nuwe gratis “bootcamp” op Oudtshoorn is voor van links Chanelle Buis, Mirja Delport en Maria Adriaanse, en agter van links Louise Lategan, Shaun Arendse, Cean Cornelson, Melanie Andries, Nicole Hill, Vanessa Mortlock, Nadia Bosch, Herman Bosch en Derek Lategan. Nadia en Herman bied die “bootcamp” aan. Foto’s: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
TWEE Oudtshoorniete, Nadia en Herman Bosch, bied sedert 16 Januarie twee keer per week ’n “bootcamp” vir inwoners by die De Jagers Sportkompleks aan – en dit is gratis!

Volgens Nadia het sy en Herman begin oefen toe hulle by Herbalife betrokke geraak het en graag meer mense wou ontmoet.

“Ons het besluit dat indien ons gaan oefen, ons net sowel ander mense ook kan help om fiks en aktief te raak met die regte oefeninge op ’n lekker manier,” sê Nadia.

Die “bootcamp”, soos die oefenry bekend staan, vind elke Maandag en Woensdag plaas met inwo­ners tussen ses en 66 wat dit bywoon.

Nadia sê almal is welkom; maak nie saak van die ouderdom of fiksheidsvlak nie.

“Mense vra ons gereeld hoekom ons dit verniet doen en ons antwoord is eenvoudig: Daar is ’n oorweldigende roering wat in ons harte plaasvind wanneer ons ’n positiewe verskil maak in iemand se lewe en dit beteken vir ons meer as net ’n geldinsamelry,” sê Nadia.

“Dit motiveer ons ook om self te gaan oefen op daardie moeilke dae met flou verskonings, aangesien daar ’n klomp bootcampers is wat op ons staatmaak om daar te wees vir hulle.

“Wanneer ’n mens in ’n groep oefen, is jou resultate beter as gevolg van die motivering en positiewe atmosfeer met ander om jou. Elkeen vorder op sy eie pas – ons vra nie dat jy 10 opstote doen nie – eerder soveel as wat jy kan binne vyf minute.”

Die paartjie is nie formeel opgelei nie, maar sê hulle doen gereeld navorsing.

Elke oefensessie begin met goeie opwarming, opgevolg deur spanwerk-oefening, fiksheids­oefeninge asook kragoefeninge soos opstote en hurkskoppe.

Om saam te begin oefen besoek https://form. jotform.co/80272879587878 en vul die aanlynvorm in of besoek die Facebook-blad “Bootcamp Likeaboss”. Skakel Nadia by 062 540 4269.