‘Grootste vetvee-slagveiling nóg in SA’, hier aangebied

DAAR was al baie groot veilings oor die jare heen in Oudtshoorn en elders aangebied, maar Karoo Lusern op Oudtshoorn bied Saterdag (19 November) om 11:00 die grootste vetvee-slagveiling nóg in nie net die dorp nie, maar Suid-Afrika se geskiedenis!

Cornél Landman, eienaar van Karoo Lusern Boerdery en Karoo Lusern Slaghuis, sê hierdie veiling is een wat jy nie kan misloop nie! Sy veiling is besonders, nie alleenlik oor die aantal vetvee wat opgeveil word en die feit dat dit deur ’n enkel-boer aangebied word nie, maar in kwaliteit.

Sy veiling en die kwaliteit van sy vee is ’n weerspieëling van die manier waarop hy sy boerdery en besigheid bestuur. “Ek doen alles bo-gemiddeld, of ek doen dit glad nie. Dit is hoekom ek Karoo Lusern begin het; en dis die standaard wat jy kan verwag as jy by die plaas inry. Dit is die idee wat jy sal kry,” sê hy vol selfvertroue.

Die Karoo Lusern vetvee-slagveiling, aangebied in samewerking met Klein Karoo Agri op Karoo Lusern Plaas te Rooiheuwel, gaan vanjaar ’n “groter as ooit vantevore” veiling wees. Daar is 10 000 vetvee op veiling beskikbaar waaronder slaglammers, slagskape én slagbeeste.

7 500 slaglammers, 1 000 C-graad slagskape, 750 A-graad slagbeeste en 750 C-graad slagbeeste sal opgeveil word, wat vir ieder en elk iets bied om plaas, of slaghuis toe te neem.

“Ons bied weer aan die koper die opsie om vee oor ’n periode van twee weke ná die veiling van die perseel af te verwyder,” voeg Cornél by. Belangstellendes kan ook aanlyn, deur middel van Meerkat Online Auctions, aan die opwindende veiling deelneem.

Cornél het in 2014, nadat hy reeds sy voerbesigheid begin het, betrokke geraak by die vetvee-bedryf toe hy agterkom dat al die beeskalwers van hier Vrystaat toe vervoer word om daar “afgerond” te word, voordat hulle teruggebring word en vir die mark beskikbaar gestel word.

“Toe het ek gesê, ‘maar kom ouens, kom ons ry eerder die voer van die Vrystaat af Oudtshoorn toe, en ons voer en slag hulle hier’. Ons het tans nie eens genoeg vee vir ons plaaslike aanvraag nie – beeste én skape.” Al die diere op veiling is 100% afgerond vir die mark, voeg hy by.

• Bepalings en voorwaardes, asook afslaernotas in die advertensie hieronder geld. Vir meer inligting besoek óf Karoo Lusern óf Klein Karoo Vei-lings & Veebemarking se Facebook-blaaie.