Pampoenpoffers met wilde suurlemoenmalva- en perskeskilsous
Die Kolonie-restaurant by die Queens Hotel is bekend vir eg Klein-Karoo kos. Een van die gaste se gunsteling disse is pampoenpoffertjies.
Mynhardt Joubert, bekende TV-sjef en Kokkedoor-wenner, het die resep aan ons verskaf. Dit is oorspronklik vanMarinda Engelbrecht wat saam met hom op Kokkedoor 1 in 2013 was. Die poffers suig gulsig die sous op en die innoverende sous is regtig besonders. Die proses is lekker vinnig en jy kan die pampoen vir die mengsel al die dag voor die tyd kook en fyn maak om dinge makliker te maak. Vir ekstra kleur en tekstuur bedien ek die pampoenkoekies met klein kleurvolle wortels.
Bedien: 6 tot 8 gaste
Voorbereidingstyd: 30 minute
Baktyd: 20 minute
Bestanddele vir die pampoenpoffers:
1. 750 ml gaar fyn pampoen
2. 2 eiers
3. 5 ml sout
4. 500 ml bruismeel
5. 15 ml bakpoeier
6. 500 ml olie vir diep braai
Metode:
1. Meng al die bestanddele saam en bak lepels vol in die warm olie.
2. Skep uit op handdoekpapier om oortollige olie te dreineer.
Bestanddele vir die sous:
1. handvol suurlemoenmalvablare
2. 500 ml suiker
3. 200 ml water
4. 125 ml melk
5. 30 ml botter
6. sout
7. 10 ml maizena
8. 1 nektarien
Metode:
1. Gooi die blare, water, suiker en melk saam in ’n pot, bring tot kookpunt en laat verder oor ’n matige hitte prut vir omtrent 20 minute om die geur uit die blare te trek. Kneus die blare deurentyd met n houtlepel.
2. Skep die blare nou uit en voeg by die sout, botter en maizena (aangemaak met ’n bietjie melk)
3. Skil die perske en sny dit in dun repies. Voeg die repies by die sous.
4. Giet die sous bo-oor die pampoenpoffers of skep lepels vol bo-oor en bedien met klein kleurvolle geblansjeerde wortels.