Kobus Spies van Oudtshoorn se Klein Karoo-skilderye sal ook by die 25ste KKNK op uitstalling wees.
‘n HOOGTEPUNT by vanjaar se visuele kunsuitstallings by die 25ste KKNK is ongetwyfeld die KKNK25-terugblikuitstalling met werke van die vorige 24 jaar se feeskunstenaars wat ten toon gestel word.
Volgens Lucia Boer, visuele kunskurator van die KKNK, word werke uit privaat- en korporatiewe versamelings, sowel as van die kunstenaars self, hiervoor saamgevoeg.
Werke van Jan Vermeieren, Hardy Botha, Erik Laubscher, Willie Bester, Wendy Malan, Piet Grobler, Claudette Schreuders, Wim Botha, Lien Botha, Minnette Vári, André Naudé, Judy Woodborne, Lawrence Lemaoana, Hylton Nel, Lukas Thobejane, Michaella Janse van Vuuren, Helena Hugo, Handspring Puppet Company, Diane Victor, Gordon Froud, Louis Jansen van Vuuren, Willem Boshoff, Berni Searle, Hanneke Benadé, Kagiso Pat Mautloa en Johannes Maswanganyi sal hier te sien wees!
• Nog goeie nuus is dat Absa weer vanjaar – soos verlede jaar – as deel van sy Maakit Mooi-projek vyf splinternuwe, funksionele en permanente kunswerke in Oudtshoorn gaan installeer.
Dit volg na die oprigting van vier kunswerke verlede jaar in die omgewing van die Burgersentrum as deel van ’n projek om Oudtshoorn te verfraai en ’n permanente kunsnalatenskap hier te vestig.
• Absa stel ook tydens die fees die Laat Jou Kuns Wen-mentorskapprogram bekend. Die doel hiervan is om geleenthede te skep vir die ontwikkeling van opkomende kunstenaars. Die program word afgeskop met drie kunstenaars van Oudtshoorn en Toekomsrus, Colin Meyer, Earlyn Cloud en Zietske Saaiman.
• Onder die uitstallings by die Prince Vintcent Gebou sal die uitstalling Imagining Tomorrow, ’n gesamentlike uitstalling van Donald Wasswa van Uganda en Onyis Martin van Kenia, albei meriete-wenners van Absa se L’Atelier-kompetisie in 2016, te sien wees.
• Onder die groepuitstallings tel uitstallings van vorige KKNK-kurators, onder wie Paul Bayliss (Absa-museumkurator) en Elfriede Dreyer, met Johan Myburgh wat kurator van ’n solo-uitstalling is.
• Onder die solo-uitstallings tel Kobus Spies van Oudtshoorn se Klein Karoo op doek, wat die landskap van die Klein Karoo en sy mense op doek vaslê. Die oënskynlik moeitelose aanslag van Spies vra ’n diepgaande studie van sy werke, waarin hy met kleur en vorms die een juweel na die ander skep.