Deur Garnett Wicomb
’N JONG man van Calitzdorp wat daarvan aangekla is dat hy ’n ander man met ’n vuurwapen geskiet het, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof aan poging tot moord skuldig bevind.
Die 24-jarige Donovan Abrahams is daaraan skuldig bevind dat hy die aand van 9 Junie 2017 vir Francois Tok in ’n straat in die woonbuurt Bergsig geskiet het. Tok is volgens ’n mediese verslag van agter in sy linkerarm getref waarna die koeël ook sy rib getref het. Dit was egter nie lewensgevaarlik nie, het die dokter getuig.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof om skuldigbevinding gevra, terwyl Abrahams se regshulpprokureur, Eugene Roos, vir sy vryspraak gevra het omdat hy nie deur enige getuie geïdentifiseer kon word nie.
Streeklanddros Retha Pretorius het egter bevind dat hoewel niemand Abrahams sien skiet het nie, hy deur getuienis voor die hof op die toneel geplaas is.
Ene Michael het die wapen aan ’n man met die naam Linton gegee om Tok te gaan skiet. Abrahams is gevra om Tok aan Linton uit te wys en hulle is met bedekte gesigte na waar Tok gewoon het. Volgens hom het Linton toe vir Tok geskiet.
Tok het getuig dat Abrahams en sy vriend se gesigte bedek was en dat dit hy was wat twee skote afgevuur het.
Volgens die landdros het Abrahams se keuse om nie self te getuig of getuies te roep nie, hom die risiko laat loop dat staatsgetuienis aanvaar moet word.
“Daar was ’n verwagting dat die beskuldigde ’n verduideliking om sy onskuld te bewys sou gee, maar dit het ongelukkig nie gebeur nie.
“Die klaer het die beskuldigde uitgeken aan sy kleredrag, sy liggaamsbou, sy stem en die manier van stap. Die straatligte was ook aan. Die beskuldigde het deelgeneem as medepligtige en geweet die klaer kon sterf. Hy het hom daarmee versoen, sy verantwoordelikheid is bo redelike twyfel bewys en daarom is hy skuldig aan poging tot moord.
Abrahams het geen vorige veroordelings nie. Vonnisoplegging is vir ’n voorvonnisverslag tot 2 Oktober uitgestel.