Trots oor skool by Spelfees presteer

Prins Albert se topspellers is (agter) Jayden Windvoel, Ainstley May, Esmique Willemse en Zureeslia Esterhuizen, en (voor) Nikita Plaatjies, John Steyn (skoolhoof) en Demucia Wanie. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
SES leerders van Prins Albert Primêr het die afgelope naweek puik pres­teer op die Sanlam WOW-Spelfees (Woorde open Wêrelde) se streek­kompetisie op Beaufort-Wes en deurgedring tot die volgende ronde op George.

Die toppresteerders was Nikita Plaatjies (graad 1, tweede plek), Demucia Wanie (graad 2, tweede), Jayden Windvoël en Zureeslia Ester­- huizen (graad 3, eerste en tweede), Esmique Willemse (graad 4, vyfde) en Ainstley May (graad 5, derde).
Die afrigters by die skool is die onderwysers Sammy Delport (same­roeper), Philida April, Diana Koorts, Deolin van Schalkwyk en Pamela Claassen.

Ma’s en oumas het ook gehelp, onder andere Esmique se ma, Lauretta Willemse.

Volgens Koorts, graad 3-klasonderwyseres, het sewe laerskole van die streek aan die kompetisie deelgeneem.

Elke skool kon vyf leerders per graad inskryf.

Die leerders wat die eerste vyf plekke in die onderskeie grade verower het, gaan nou deelneem aan die volgende ronde, ’n streekkompetisie op George op 1 September.

Dieselfde proses word daar gevolg, met die volgende ronde finaliste wat dan deurdring tot die provinsiale kompetisie op Stellenbosch later in September.

Koorts sê die skool werk hard aan sy leerders se taalvaardighede.

“My graad 3’s het dwarsdeur die Junievakansie gewerk en op afgespreekte tye saam met my en Leoni Moolman, ’n inwoner van Prins Albert, geoefen.

“Ek het mense uit die gemeenskap gevra wat toe van die begin van die kwartaal af elke dag ná skool vir ons kom help het. Mari du Toit, George Stegman, Jan Kruger en Denise Ohlson het gereeld die kinders help oefen.

“Hulle het baie hard gewerk. Graad 3 se twee eerste plekke kom uit my klas.”

Op Beaufort-Wes het Jayden en Zureeslia die ander skole se leerders uitgeskakel en tot ronde ses aangehou, totdat een ’n woord verkeerd gespel het.

Koorts sê by dié streekkompetisie was daar ook ’n skriftelike speltoets van 20 punte.

Hardop spel en skriftelike spelling se gesamentlike punt het dan die wenners bepaal.

Volgens die skoolhoof, John Steyn, word leerders daagliks aangemoedig om te lees.

“Ons glo dat, wanneer ’n kind goed kan lees, word sy woordeskat uitgebrei en algemene kennis verbreed.

“Kommunikasie is op ’n baie hoër vlak as dié van mense wat nie kan lees nie.”

Jayden en Zureeslia het verlede jaar ook uitstekend gevaar in die Wes-Kaapse ronde van dié nasionale kompetisie. Byna 350 skole in die provinsie neem deel.