DIE Rooikruiskomitee van Oudtshoorn het op Saterdag, 28 Julie, weer hul jaarlikse ontbytfunksie by die Riempie Hotel op die dorp gehou en soos altyd was dit ’n genotvolle oggend en ’n groot sukses.Vanjaar was die spreker Johan Breunissen, ’n plaaslike sakeman, met die talentvolle Marisca Visagie wat die funksie opgehelder het met haar sang.
Die Rooikruiskomitee bestaan uit ’n klein groepie toegewyde Oudtshoorniete wat deur hul bydraes werklik ’n verskil in die gemeenskap maak.
In Februarie vanjaar het hulle byvoorbeeld ’n groot klomp kruideniersware afgegee by die sentrum op George waar kankerpasiënte woon wat behandeling by die hospitaal ontvang.
Dié skenking is met groot dankbaarheid deur die personeel ontvang.
In Mei het hulle hul jaarlikse brei-uitstalling gehou. Die pragtige artikels, wat wissel van kinderklere tot kniekomberse en slaapkouse, is na die uitstalling uitgedeel aan verskeie instansies – aan gestremdes, aan verskeie kleuterskole, aan die Rooikruis
Hospitaal in Kaapstad en ook aan individue waar die behoefte was.
Hulle het ook vanjaar klere geskenk aan ’n gesin wie se huis afgebrand het.
Jean Arries van die Rooikruis-komitee sê die organisasie is baie dankbaar dat hulle elke maand hul vergaderings by Die Riempie kan hou.
Dié vergaderings vind elke laaste Donderdag van die maand om 16:00 (4 nm) plaas.