By die aanwysing van Joseph Stoffels as wenner was van links Neil Mooney, Darren Erasmus, Jason Arries, Patrick Jordaan (verkeershoof), Joseph Stoffels, Donovan le Roux (munisipale wetstoepassers), Hennie Davel (Oudtshoorn Besigheidskamer) en kapt Wynand du Plessis (Oudtshoorn Polisie). Foto Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
DIE vriendelike karwag wat verantwoordelik is vir die gedeelte van Kerkstraat voor Wilck Spar is gister aangewys as die eerste maandwenner as Karwag van die Maand.
Joseph Stoffels is Oktobermaand se wenner.
Hy is deur lede van die Oudtshoorn Besigheidskamer as maandwenner genomineer.
Dié Karwag van die Maand-”kompetisie” maak deel uit van ’n inisiatief wat vroeë vanjaar deur die besigheidskamer, die Oudtshoorn Polisie en die Oudtshoorn Munisipaliteit geloods is om die situasie rondom karwagte in die dorp te verbeter en ook karwagte op te lei.
Die karwagte word tans deur Hennie Davel, lid van die Besigheidskamer, opgelei.
Davel sê die karwagte wat wettig in Oudtshoorn se strate werk, gaan almal nuwe beffies ontvang met die munisipaliteit se logo op sodat hulle maklik deur die publiek uitgeken kan word.
Enige lede van die publiek wat graag ’n karwag wil nomineer as hy goeie diens lewer, of as daar klagtes is, kan vir Davel kontak of ’n epos stuur aan info@y-not.co.za.
Verstrek asb die beffie-nommer van die persoon sowel as die plek waar die persoon gestaan het.