Inwoners maak harte oop met skenking vir Ithemba-skuiling

Jan Ayford (naasregs, voorsitter van die bestuur van die Inthemba Huis vir Haweloses op Oudtshoorn), en van links Vivian Bruintjies (inwoner van die huis), Daniel Smith (ondervoorsitter) en die huis se kok, Marie le Roux, by ’n skenking van botterskorsies van André Nel. Foto: Stefan Skapie Goosen

GOEIE, opbouende nuus uit Oudtshoorn, en ’n bewys dat die gemeenskap wel mekaar onder­steun!
Dit is die boodskap wat die bestuur van die Ithemba Huis vir Haweloses in Jubileestraat, Oudts­hoorn vandeesweek aan Die Hoorn oorgedra het.

Volgens Jan Ayford), voorsitter van die bestuur, het Oudtshoorniete hul harte vir die huis oopgemaak sedert ’n berig waarin die bestuur om hulp gevra het op 10 Junie in die Die Hoorn verskyn het.

Talle skenkings is van inwoners ontvang, onder meer botterskorsies van André Nel, ’n hoenderbraai deur Desmond Paulse en Salmoé Plaatjies wat elke Sondag ’n bord gekookte kos vir elke inwoner voorsien. Inwoners van Oudtshoorn het ook komberse by die huis afgelaai.

Ayford sê die bestuur en inwoners van Ithemba is ongelooflik dankbaar vir die gebaar.

“As die gemeenskap ons so aanhou help, kan dinge vir ons inwoners net beter gaan. Al stop hier­die skenkings so paar gate toe, het ons steeds ander skenkings nodig, en sal ons dit baie waardeer.” (Deur Stefan Skapie Goosen)