Eljada Nasorg vier fees uit dankbaarheid

Eljada Nasorg se koor Sondag in aksie by ’n middagete in Schoemanshoek. Die koor word afgerig deur Rensie Prins (met haar rug na die kamera). Foto: Christine Schoeman

Deur Christine Schoeman
DIE afgelope Sondagmiddag het die bestuur van Eljada Nasorg vir volwassenes met intellektuele gestremdhede hul beste voet voorgesit en ’n middagete vir sowat 170 mense aangebied as ’n “dankbaarheidsfees”.

Die opbrengs van die ete, wat by De Opstal in Schoemanshoek aangebied is, gaan na Eljada Nasorg om hul begroting aan te vul.

“Daar word beplan om hierdie ete op ’n jaarlikse basis aan te bied, en volgens die positiewe reaksie van die gaste, sal mens dit nie sommer wil misloop nie,” sê Alta Germs, voorsitter van die beheerraad.

Volgens Germs beloop Eljada Nasorg se jaarlikse uitgawes sowat R20 miljoen, wat aan salarisse, inwoners se daaglikse etes en die gebou se onderhoudskoste bestee word.

Om dit te probeer dek, het die insti­tuut twee bronne van inkomste, naamlik staatsubsidie (52%), en die inwoners se ongeskiktheidsfonds as­ook hul familiebydrae. Verder is hulle afhanklik van van donasies, fondsinsamelings en erflatings (wat selde gebeur) om die begroting te laat klop.

Inwoners van Eljada Nasorg het tydens die middagete vir ’n hoogte­punt gesorg toe hul koor opgetree het.

“Eljada behoort eintlik aan die gemeenskap van Oudtshoorn. Dit is ’n sentrum waarop almal in die dorp trots kan wees,” sê Wilma Lemmer, bestuurder van Eljada Nasorg.

“Die publiek is welkom om Eljada te besoek – ’n plek waar die mens onvoorwaardelike liefde ontvang en waar die begrippe van genade en dankbaarheid nuwe betekenis kry.”

Skakel Eljada by tel 044 279 1740.