Die Wes-Kaapse minister van finansies, Ivan Meyer, saam met oud-burgemeester Diane de Jager en haar dogter Nicolette van der Walt in die foto wat hy verlede Vrydag op Facebook gedeel het.
Deur Liesel le Roux
DIT gaan baie goed met haar skoonma en sy is Maandag uit die hospitaal ontslaan, sê Esti-Mari de Jager, skoondogter van Diane de Jager (81), voormalige burgemeester van Oudtshoorn.
De Jager is verlede Maandag in die Life Bayview Hospitaal in Mosselbaai opgeneem na ’n hartaanval en beroerte. Volgens Esti-Mari het haar skoonma merkwaardig herstel.
De Jager se seun, Arnold, het haar verlede Maandag hospitaal toe gehaas nadat sy gekla het van benoudheid. Sy het eers na haar opname die hartaanval en beroerte gekry.
Die Wes-Kaapse minister van finansies, Ivan Meyer, het Vrydag ’n foto op Facebook gedeel waar hy De Jager (81) in die hospitaal besoek het.
“Ek het baie by haar oor die jare geleer,” skryf hy onder meer by die foto. “Sy is ’n uitstaande vrou. Ons is lief vir haar. Sy praat met my soos ’n ma. Ek luister na haar soos ’n seun.”