Kinders van De Zeekoe Primêr buite Oudtshoorn. Die skool sal baat by ’n konsert van Andries Vermeulen wat op 4 Mei in die Burgersentrum op Oudtshoorn aangebied word. Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
DE ZEEKOE PRIMêR, ’n laerskool sowat 6 km buite Oudtshoorn op die Mosselbaai-pad, gaan baat by ’n konsert van die gewilde Andries Vermeulen wat op Saterdag 4 Mei in die Oudtshoorn Bur-gersentrum plaasvind.
Dié laerskool het sy deure in 2008 geopen vir kinders uit die omliggende gemeenskap.
Vir die afgelope 11 jaar is dit nie net ’n plek waar kinders onderrig ontvang nie, maar ook die plek waar hul somtyds hul enigste maaltye van die dag ontvang.
Twee gebalanseerde maaltye en ’n vrugte-versnapering word van Maandae tot Vrydae daagliks aan elke kind verskaf.
Vir die 115 kinders tussen die ouderdomme van vyf en 12 jaar, word daar ook gesorg vir klere, veral tydens die wintermaande in die koue Klein Karoo.
Baie kinders woon tot 7 km van die skool af, en daar word ook in sulke gevalle gesorg vir vervoer vir elke kind wat dit nodig het.
Die skool het egter die afgelope drie jaar ’n daling van sowat 36% in die fondse ondervind wat deur die trustees ingesamel word.
Dit word onder meer deur die taai ekonomie veroorsaak.
Intussen neem uitgawes ook elke jaar toe.
Die trust betaal voorts ook die salarisse van drie addisionele onderwysers wat by die skool aangestel is.
Die meeste fondse vir die skool kom tans van toeriste wat De Zeekoe en die Safari Volstruisplaas besoek.
Intussen droom diegene betrokke by die skool groot.
Hul doelwitte vir 2019 sluit die verkryging van addisionele remediërende hulp vir kinders waar nodig, vitamien-aanvullings vir die leerders en die opgradering van die skool se kragtoevoer sodat rekenaartoerusting by die skool gebruik kan word.
Dan is daar ook die droom om die kombuis en badkamer op te gradeer en vir ’n minibus om kinders daagliks te vervoer.
• Die konsert met Andries Vermeulen begin om 18:00.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R130 vir volwassenes en R95 vir kinders en pensionarisse.