‘Dankbaar vir bewys van eiendom’

Die Wes-Kaapse Minister van Menslike Nedersettings, Bonginkosi Madikizela (middel), oorhandig Maandag die titelakte vir ’n huis aan die 82-jarige Jan Saffers (naaslinks). By hulle is van links Colan Sylvester, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Tertius Simmers, lid van die provinsiale parlement, en Noluthando Mwati, onderburgemeester van die Groter Oudtshoorn.
“EK is dankbaar om uiteindelik op my ouderdom ’n bewys te ontvang dat ek ’n eiendom besit. Ek het nou ’n huis vir nie net my kinders nie, maar ook my kleinkinders.”
Dit was die woorde van Jan Safers (80), een van 290 inwoners van Rose valley in Oudtshoorn, wat Maan dag die titelakte vir sy eiendom ontvang het.
Die titelaktes is deur die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Bonginkosi Madikizela, tydens ’n funksie in ’n volgepakte Toekomsrus Gemeenskapsaal oorhandig.
Die projek waarvoor die titelaktes oorhandig is, was die eerste van drie fases in die opgradering van Rosevalley, voorheen bekend as die infomele woonbuurt Riemvasmaak.
Die laaste huise van die eerste fase is in Desember 2015 aan die inwoners oorhandig.
Die tweede fase is in 2017 voltooi, terwyl die derde fase tans onder konstruksie
is.
“Vandag moet almal hier bly wees omdat die titelaktes bevestig dat julle nie net eiendomme gekry het nie, maar nou ook die grond besit waarop jul woon,” het Madikizela aan die teenwoordiges gesê.
Volgens Madikizela is dit die eerste keer dat titelaktes binne sowat twee jaar na die afhandeling van so ’n projek oorhandig word, maar wil die Wes-Kaapse regering die tydperk nog verder verkort.
“Daar is situasies waar mense jare lank vir eienaarskap gewag het. Dit wil ons nie hê nie, en ons wil seker maak dat eienaarskap van eiendomme vinnig afgehandel word.
“Pas die titelaktes op; dit is jul en jul kinders se rykdom.” Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, het die nuwe eienaars
gevra om hul huise op te pas.
“Hierdie titelaktes is nie net die versekering van die eienaarskap van eiendom nie, maar ook die herstel van waardigheid,” het hy gesê.
Die onderburgemeester, Noluthando Mwati, het die nuwe eienaars ook versoek om hul huise op te pas.
“Hou ons dorp en jul huise skoon.
En moet asseblief nie daardie huise verkoop of plakkershuise in die erwe bou nie.”