Kollig op St Johnstraat se sakebedrywighede

Bedrywig van toeka se dae af

Deur Ilze-Mari Gründling
ST JOHNSTRAAT het oor die jare baie verande­ringe oorleef – soos die afname in besigheid nadat die volstruisveerbedryf in die vroeë 1900’s in duie gestort het, die sloping van talle ou geboue in die 1970’s asook die herstel van die ekonomie daarna.

Dié straat was in die 1800’s bekend as Chapelstraat en ook veel korter. Eers in 1890 is die straat verleng tot in Wesbank.

Een van die legendariese geboue uit die straat was die Imperial Hotel. Dit was geleë waar Shoprite nou staan en drie verdiepings hoog. Op die perseel was eers ’n losieshuis wat in 1896 afgebrand het en herdoop is tot die Masonic toe dit herbou is. Dié losieshuis is in 1910 herbou tot die deftige en indukwekkende Imperial Hotel. Maar in die 1970’s was dit een van die slagoffers van talle historiese geboue in die dorp wat gesloop is.

Pep Stores op die hoek van Hoog- en St Johnstraat is geleë in die Lazaruz-gebou. Dit was in die ou dae die tuiste van Volkskas en voor dit was daar ’n Joodse winkel.

St Johnstraat was inderdaad bekend as die Jood-se straat omdat so baie Jode daar gewoon het. Daar was ook ’n tweede Joodse sinagoge in die straat nadat die Kelme Jode, wat hulle in 1896 op Oudts­hoorn gevestig het, besluit het om ’n meer ortodokse sinagoge te bou. Dié sinagoge het be­kend gestaan as die “Griener Shul” en is gebou in dieselfde styl as hul tuisdorp se sinagoge.

Dié gemeenskap het egter in 1973 ontbind nadat baie Jode die dorp verlaat het. Daar is besluit om die inhoud – insluitend die Heilige Ark wat soos die ark in die sinagoge in Kelme gemodelleer is – na die CP Nel Museum in Baron van Reedestraat te verskuif. ’n Replika van die si­na­goge met sy inhoud is steeds in die museum te sien.

Na verneem word, moes die vertrek waar dit staan se dak verhoog en die vloer laer gemaak word omdat die ark so groot was! Die deur moes ook groter gemaak word om die ark ingedra te kry.
Oudtshoorn se bruin gemeenskap het ook sterk bande met die historiese St Johnstraat. Op die hoek van St John- en Jubileestraat staan nog ’n ou gebou wat voorheen bekend was as Nortje’s Hall. Deftige danse en konserte is daar gehou.

Daar was ook die pragtige Independente Kerk wat in 1849 op die hoek van St John- en Baron van Reedestraat gebou is en later ook ’n skool ingesluit het. Dit is in Desember 1971 as gevolg van die Groepsgebiedewet gesluit.

Deesdae is St Johnstraat ’n bedrywige straat met heelwat woonhuise wat in besighede omskep word. Met die jaarlikse KKNK is dit ook die middelpunt van die Rivierbuurt.

• Dankie aan Hazel Jonker, Hilda Boshoff en personeel van CP Nel Museum vir inligting en foto’s oor die geskiedenis van St Johnstraat.

9 St Johnstraat 4

 

OUD en NUUT. Bo en links is St Johnstraat in die ou dae - bo ’n straattoneel met die deftige Imperial Hotel met sy vlag en links St Johnstraat uit die ooste.

OUD en NUUT. Foto heelbo en bo is St Johnstraat in die ou dae – bo ’n straattoneel met die deftige Imperial Hotel met sy vlag en links St Johnstraat uit die ooste.

After

 

Onder is St Johnstraat tans en links onder die kantoorkompleks wat in November 2016 sy deure langs die Grobbelaarsrivier geopen het.  Foto's: Verskaf

Heelbo en bo is St Johnstraat tans en foto heelbo die kantoorkompleks wat in November 2016 sy deure langs die Grobbelaarsrivier geopen het. Foto’s: Verskaf