Klas van ‘71 dié naweek op Oudtshoorn om 50 jaar te vier

DAAR is groot opwinding onder 23 oud-leerders van die Langenhoven Handelskool op Oudtshoorn wat dié langnaweek hul 50ste matriekreünie op die dorp kom vier.

Volgens die Oudtshoorniet Steve Sharp, een van dié matrieks van 1971, was hulle die eerste groep wat matriek geskryf het in die “nuwe skool” wat geleë was waar die Suid-Kaap Kollege nou is.

Sharp sê sy ou skoolmaats kom van dwarsoor die land die naweek Oudtshoorn toe.

En daar is duidelik baie vir hulle om na uit te sien. Hulle gaan Vrydag- en Saterdagaand saam eet en kuier, terwyl ’n orkes van vier lede wat altyd tydens hul skooljare saamgespeel het, Saterdagaand weer saam gaan musiek maak.

Twee van hul onderwysers, mnre Barnard en Lamprecht, gaan ook saam kom reünie hou.

En as jy Saterdagoggend ’n bus met ’n groep vrolike (en dalk effens raserige) passasiers deur Oudtshoorn se strate sien ry, kan jy maar weet dit is dié matriekgroep wat op ’n toer geneem word deur die dorp waar hulle eens skoolgegaan het. (Deur Liesel le Roux)