Biblioteek op Calitzdorp trek ’n splinternuwe baadjie aan!

Bo: Die biblioteek in Bergsig, Calitzdorp soos dit nou lyk nadat opknappingswerk daaraan voltooi is. Foto: Deon Meyer

WAT in ’n stadium ’n verleentheid vir die gemeenskap en munisipaliteit van Calitzdorp was, is nou die kroonjuweel van die Bergsig-woonbuurt in dié dorp.

Inwoners en veral die boekwurms van die dorp het lank gepleit dat die onooglike gebou herstel word.

Die Hoorn het in Januarie 2020 berig oor die stukkende vensters, graffiti op die mure en stukkende toilette.

Nou is die gebou tot groot trots van die inwoners herstel!

Murushda Van Heerden, senior bestuurder: biblioteke wat die projek gedryf het, is deur inwoners geloof vir haar deursettingsvermoë.

Jacob Willemse, gemeenskapsleier wat aan die voortpunt was om hom te beywer vir die herstel van die biblioteek, het gesê die raad verdien ’n pluimpie.

“Die gebou is netjies en ek doen ’n beroep op die gemeenskap om dit op te pas. Lees neem jou na wêrelde waar jy nooit sal kan reis nie. Dankie vir ons netjiese biblioteek!”

Morné Hoogbaard, waarnemende munisipale bestuurder, sê die munisipaliteit het reeds in 2018 ’n versoek aan die provinsiale regering gerig vir die opknapping en heropening van die biblioteek, iets waarvoor die gemeenskap van Bergsig meer as 15 jaar gevra het.

“In 2019 het die Wes-Kaapse Departement van Kultuur en Sport ’n bedrag van R650 000 geallokeer en in 2020 weer addisionele befondsing beskikbaar gestel. Die projek kon eers in Mei 2021 begin as gevolg van die inperking en daar word beoog om die biblioteek vroeg in November te open.

“Die Kannaland Munsipaliteit wil graag die volgende boodskap aan die gemeenskap van Calitzdorp oordra: Biblioteke is die hartklop van die gemeenskap en moet vir ons kinders en hulle kinders bewaar word.

“Ons vra dat die gemeenskap mooi moet kyk na hulle biblioteek!” (Deur Deon Meyer)