Kreatiewe video-kompetisie vir jonges oor voedselsekuriteit!

Tiffany Saterdaght. Foto verskaf

RYMKLETSERS, digters, skrywers, toespraakmakers en ander kreatiewe praters staan die kans om ’n vet prys los te slaan in’n opwindende kompetisie waarin jongmense uitgenooi word om ’n kort video te maak en hul stemme te laat hoor oor voedselsekuriteit in die Klein Karoo.

Dié kompetisie is die blink idee van Tiffany Saterdaght (27) van Oudtshoorn, ’n opkomende teatermaker, digter, rymkletser, dramaturg en skrywer. Sy het betrokke geraak by die nie-winsge­wende organisasie, Klein Karoo Connect (KKC), wat betrokke is by voedselhulpinisiatiewe in die Groter Oudtshoorn.

“Deur die kompetisie hoop ons om groter bewustheid te skep by die plaaslike gemeenskap, veral onder jongmense, oor volhoubare voedsel­sekuriteit in die Klein Karoo. Ek hoop ook dit sal jongmense aanspoor om meer betrokke te raak by plaaslike gemeenskapsinisiatiewe,” sê Saterdaght.

Jongmense tussen 16 en 35 wat in die Klein Karoo woon, word genooi om ’n kort video van hulleself te maak met ’n oorspronklike toespraak, gedig, liedjie, prosastuk, rymklets of “ander krea­tiewe vorm van gesproke uitdrukking oor voedselsekuriteit”.

Videos – tussen een en drie minute – moet in natuurlike lig met ’n slimfoon afgeneem word. Inskrywings in Afrikaans, Engels en Xhosa sal aanvaar word. Die sluitingsdatum is 15 Oktober 2021.

Die beoordeling sal deur ’n onafhanklike paneel gedoen word en die beoordelaars se beslissing is finaal.

Drie finaliste sal gekies word om hul inskrywings tydens ’n Voedselsekerheid-indaba later vanjaar voor te dra, waarna die wenner bekend gemaak sal word.

“Oud-pres Nelson Mandela het gesê: Sometimes it falls upon a generation to be great. Ek wil sy woorde gebruik om vir ons jongmense in die Klein Karoo te sê: You can be that great generation. Let your greatness blossom. Volhoubare voedselsekuriteit is een van ons land se grootste uitdagings. As jongmense moet ons betrokke raak. Dit is ons generasie wat in die toekoms hierdie soort kwessies sal moet aanspreek.”

WhatsApp video-inskrywings na Tiffany by 062 425 6165. Vir meer inligting besoek Klein Karoo Connect (KKC) se Facebook-blad.