Nal’ibali (isiXhosa vir ‘hier is die storie’)
is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog
wat kinders se potensiaal help ontwikkel
deur middel van lees en die vertel van
stories. Kinders wat hulle inleef in goeie
stories wat goed vertel word – in tale
wat hulle verstaan – word geïnspireer en
gemotiveer om self te leer lees.
Dit wat ons glo ons kinders kan doen en bereik, het ’n invloed op wat hulle self dink hulle kan doen en bereik. Wanneer jy glo dat jou kinders sukses sal behaal met lees en skryf, en jy dit vir hulle sê, help jy hulle om te sien dat hierdie doel binne hul bereik is.
Hoe ons op ons kinders se pogings om te lees en skryf reageer, sal hulle aanmoedig of ontmoedig. As ons vir hulle positiewe terugvoer gee wanneer hulle probeer, sal dit hulle motiveer om te volhard – en hoe meer hulle dit doen, hoe beter raak hulle daarmee!
Hier volg voorbeelde van wat jy kan sê en doen om jou kinders aan te moedig terwyl hulle leer lees en skryf.
• Praat oor leer. Laat jou kinders weet dat hulle nog besig is om te leer lees en skryf. Wat hulle op hierdie tydstip kan doen, is nie veronderstel om te lyk soos iemand wat dit al vir ’n lang tyd doen nie.
• Gee erkenning vir hulle pogings. Reageer positief op elke poging wat jou kinders aanwend om te lees of te skryf, ongeag hoe klein. Jy kan byvoorbeeld sê: “Ek hou baie daarvan om te hoor hoe jy probeer om alles op jou eie te lees!”
Lewer ook kommentaar op die genot wat jou kinders ervaar wanneer hulle voel hulle het iets voltooi wat hulle beplan het om te doen, byvoorbeeld: “Ek kan sien jy het dit regtig geniet om die lysie vir jou partytjie neer te skryf!”
• Stel belang en wees trots. Vra jou kinders om vir jou te vertel en te wys wat hulle lees en waaroor hulle skryf. Onthou om vir hulle te vertel dat jy hulle pogings waardeer, of hulle dit perfek doen of nie.
• Gee ondersteuning. Ondersteun jou kinders se pogings om op hulle eie te werk, sonder om in te spring en elke fout wat hulle begaan, reg te maak. Laat hulle eerder daarop fokus om te verstaan terwyl hulle lees, en om ’n boodskap met hul skryfwerk oor te dra. Onthou dat korrekte spelling en punktuasie met tyd kom namate ’n kind meer en meer lees en skryf.
• Wees ’n rolmodel. Kinders leer meer deur te kyk na wat ons doen, as wat hulle leer wanneer ons vir hulle sê wat om te doen! Laat hulle jou sien lees vir genot en sien hoe jy elke dag skryf, byvoorbeeld ’n doenlysie maak, ’n e-pos stuur of ’n afspraak in jou dagboek aanteken. Wanneer ons kinders ons gereeld sien lees en skryf, moedig dit hulle aan om lees en skryf ook deel van hul lewens te maak.
Wat jy sê en doen maak saak! Wanneer jy saam met jou kinders lees en skryf, en positief met werklike belangstelling op hulle pogings reageer, bou jy die fondament vir hulle sukses as lesers en skrywers.
