Milka en Sebastiaan leer kinders hul is kosbaar vir God

Bo: Die boek is een van die dae op die rakke beskikbaar. Fotos verskaf Onder links: Charmaine Beneke, skrywer van haar eerse boek, Milka en Sebastiaan. Onder regs: Janien Müller het die illustrasies vir die boek geteken.

CHARMAINE Beneke, ’n plaaslike inwoner van Oudtshoorn wat haarself reeds vir 21 jaar hier bevind, en ’n bekende gesig in die bankwese is, het pas haar eerste kinderboek, Milka en Sebastiaan vrygestel.

Beneke is die ma van twee seuns, en sê daar is niks lekkerder vir haar as om oor ’n lekker koppie koffie te gesels oor haar geloof, waaroor sy baie passievol is.

Haar kinderboek, Milka en Sebastiaan, wat uit sowat 20 bladsye bestaan, het haar 10 maande geneem om te skryf, en Janien Müller (16), ’n leerder aan Langenhoven Gimnasium het die illustrasies vir die boek gedoen. “Ek het die boek begin skryf omdat die Here my gewys het hoe belangrik dit vir elke kind is om te weet wat hul identiteit in Christus is,” vertel sy.

Haar oudste seun se eerste jaar op skool was baie moeilik gewees, en sy het stories gebruik om hom te help en aan te moedig, wat later in avonture verander het, en so het sy hom gehelp tot skoolgaan vir hom makliker geraak het.

“Vandag is hy een van die topleerders in sy graad en hy het veral ’n groot liefde vir lees,”

En so, met die doel om kinders te leer hoe kosbaar hulle vir Jesus is, is haar boek Milka en Sebastiaan gebore en kan sy met vreugde die boek met baie kinders deel.

Janien Müller (16), wat die illustrasies gedoen het, het ’n gawe vir kuns en het elke skets in die storie lewendig gemaak. “Sonder prentjies was hierdie net bloot ’n storie, en sonder ’n storie sou die prentjies net mooi prentjies gewees het,” sê sy, maar die kombinasie sal toelaat dat kinders dit in hul harte ervaar.
Milka is ’n piepklein muis wat in die gesin se tuin woon. Sebastiaan is ’n hartseer 9-jarige seuntjie wat baie eensaam voel. Ten spyte van die feit dat hy alles het wat ’n seuntjie van sy ouderdom wil hê, voel hy tog dat hy graag ’n beste maatjie wil hê, maar nie spesiaal genoeg is nie.

Tot die dag dat hy vir Milka ontmoet en hy help om alles te verander. Sy is tans besig met haar 2de boek, en daar wag ook ’n opvolg-avontuur vir Milka en Sebastiaan.

Kontak gerus vir Charmaine by 076 291 3706 om die boek vooraf te bestel of haar uitgewer, Turksvy Publikasies.

Die boek is beskikbaar teen R200 per boek, posgeld uitgesluit.

Die boek sal ook binnekort op die rakke beskikbaar wees, hou gerus die blad Milka en Sebastiaan op facebook dop vir nuus. (Deur Angelique Erasmus)