Eksodus 17:1-7
DIE volk Israel trek steeds vanuit Egipte in die woestyn rond. Hul slaan weer kamp op, maar daar was geen water nie. Die volk is woedend vir God en Moses. Hulle moes tog onseker en verbouereerd wees!
Ons is almal vandag ook in krisisse gedompel. Ons kan ’n lang lysie maak. Die politieke uit- dagings; jou gesondheid; die dood; finansies; vertroue in jou familie- en vriendekring.
Almal van ons – wêreldwyd – het ’n woestyntyd in ons lewens. Dit is soos dit vir Moses moes gevoel het. Hy is teen die rots vasgekeer deur die massa volk. Ons is ook bang; bekommerd; benoud!
Hoe verwerk ’n mens nou hierdie krisistye? God het Sy Seun as Verlosser en Leidsman gestuur. Dit waarborg nie ’n lewe sonder pyn; struikelblokke en uitdagings nie! God wil ons deur Sy Gees in liefde begelei in die wêreld van vandag. God het reeds voor die skepping geweet wat vir ons elkeen in die vooruitsig is. God luister as jy hartseer en onseker is en gee om. God belowe nie dat jy nooit hartseer sal ervaar nie. Christus as Trooster sal jou wel daardeur dra. God was tog by Moses op die rots. Hy versorg en les die volk se dors. In jou lyding en onsekerhede kry God saam met jou swaar.
God is nie net oor jou ewige toekoms begaan nie, maar ook oor die swaarkry waarmee jy nou worstel. Daar sal ’n einde aan jou lyding kom!
“God het nie gekom om die pyn uit die wêreld te neem of om dit te verklaar nie, maar om dit met Sy teenwoordigheid te vul.” (Anoniem)
Erken God in jou lewe. (Deur Bertine Malan)
Kingdom News: Hoop in ’n wankelende wêreld
Ds. Bertine Malan Foto verskaf