Luigi April stel boek bekend

Luigi April wys sy eerste boek, A Walk with the Lord. Foto: Ilze-Mari Gründling

Luigi April wys sy eerste boek, A Walk with the Lord. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
OUDTSHOORN se plaaslike Christelike rym­kletser, Luigi April, het pas sy eerste boek, A Walk with the Lord, bekend gestel.

“Hierdie boek is ’n getuienis van my pad wat ek met God gestap het vir die laaste tien tot twaalf jaar. Dit is die eerste weergawe in ’n reeks boeke wat ek nog beplan.”

Luigi is op Oudtshoorn gebore en het sy hoër­skoolloopbaan aan die Hoërskool Môrester voltooi. Daarna het hy in 2015 naam gemaak met sy Christelike rymklets-album, Sy Genade.

Hy vertel dat dit belangrik vir hom was om hier­die boek te voltooi.

“Mense gaan kerk toe, maar verstaan nie regtig hoekom nie. Dit is belangrik om ’n verhouding met God te skep sodat jy Hom kan verstaan. Die boek verduidelik hoe hierdie verhouding geskep kan word en hoe my verhouding met God ontstaan het. Dit is ’n baie persoonlike verhaal.”

’n Gedeelte van die wins van boeke wat deur Amazon verkoop word, sal aan liefdadigheid geskenk word.

Luigi se boek, A Walk with the Lord, is beskikbaar op www.amazon.com in beide sagteband en Kindle-formaat asook op www.lulu.com. Soek net Luigi April.

Luigi kan gekontak word by 071 973 8032 of 061 906 9130.