De Rust se drinkwaterprobleem is terug.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, het kort gelede gesê die Huisrivier by De Rust se water is weer pikswart nadat dit goed in die berg gereën het.
Ernstige veldbrande wat in Desember groot skade aangerig het in die Swartberge by De Rust, het veroorsaak dat roet in die riviere en damme beland wanneer dit in die berge reën.
“Ongelukkig kan ons nie toelaat dat daardie water in die verspreidingstelsel van De Rust beland nie en is die toevoer na die dorp gestop,” het Mangqwengqwe gesê.
Hy sê die dorp se waterreservoirs het nie tans baie water in nie en inwoners versoek om water spaarsaam te gebruik. “Sodra die water in die rivier relatief skoon is, sal die toevoer weer oopgemaak word. Damwater sal wel die naweek in die verspreidingstelsel ingepomp word, maar dit is ongelukkig net sowat ’n derde van wat benodig word.” (Berig deur Liesel le Roux)