Baie gevalle van katgriep

FB_IMG_1485608278453DAAR is sedert Oktober verlede jaar buitengewoon baie gevalle van katgriep by hulle praktyk, sê dr Trude Stassen, een van die veeartse werksaam by die Kango Dierekliniek op Oudtshoorn.
Katgriep, wat veroorsaak word deur die parvovirus, kom anders as wat die naam suggereer, net by honde voor. Honde wat in hul eerste lewensjaar nie daarteen ingeënt word nie, is geneig om die virus, wat dodelik kan wees,  op te doen.
Dit is baie aansteeklik en die virus versprei vinnig.
Dr Glen Carlisle, veearts verbonde aan die Oudtshoorn Dierekliniek, sê dit is belangrik dat troeteldiere drie inentings kry in die eerste jaar van hul lewe  – op 6, 10 en 14 weke.
“Hierdie inentings voorkom katgriep, die coronavirus, asemhalingsiektes, aansteeklike hepatitis en hondsdolheid.”
Volgens die webblad www.bergbosvet.co.za/Siektes/parvo.htm is dié virus so taai dat dit onder gunstige omstandighede tot twee jaar in die omgewing oorleef. Die virus kan selfs deur iemand se skoensole versprei word –  dit is die wyse waarop die siekte in 1978 binne ’n paar maande regoor die wêreld versprei het.
Volgens die webblad kan die virus tot twee jaar in ’n omgewing oorleef. Indien ’n hond op jou erf gevrek het van die siekte moet gepoog word om alle soliede oppervlakke met chloor of sterk ontsmettingsmiddels te ontsmet. Moenie ’n hondjie op die erf bring wat nie ten minste twee inentings teen katgriep gehad het nie.
Simptome van katgriep is hoë koors, lusteloosheid, verlies aan eetlus, aanhoudende braking, skuim om die bek, slegruikende diaree wat later bloederig word, wit of blouerige tandvleis, buikpyn en vinnige ontwatering.

Simptome verskyn skielik en honde kan binne ’n paar uur vrek.