
INWONERS van Oudtshoorn het gister met ontsteltenis gereageer op ’n foto op Facebook waarop die bekende skewe boom net buite Oudtshoorn op die Calitzdorppad afgesaag word.
Die opdrag dat die boom afgesaag moet word, kom klaarblyklik van die Wes-Kaapse Departement Vervoer, maar Die Hoorn kon nie daarin slaag om voor spertyd terugvoer te kry oor wat die rede vir die opdrag was nie.
Byron la Hoe, woordvoerder van die departement, het aangedui dat hy Die Hoorn se navraag sal beantwoord sodra hy terugvoer van die Tuinroete-distrikskantoor kry. Dié kantoor wou nie direk met Die Hoorn kommunikeer nie.