Hier is die wenners van 2018 se Kannas!

Die Kanna vir die beste musiekproduksie het gegaan aan Lepeltjie vol snare. Hier is die legendariese Hannes Coetzee in aksie.Foto verskaf

Die Kanna vir die beste musiekproduksie het gegaan aan Lepeltjie vol snare. Hier is die legendariese Hannes Coetzee in aksie. Foto verskaf

MET drie pryse elk het die 24ste KKNK se debuutproduksie Swerfgoed, ’n disto­piese blik op ’n wêreld wat gebuk gaan onder waterskaarste, en Hierdie lewe, ’n verwerking van Karel Schoeman se ge­lyknamige roman, die voortou geneem by vanjaar se KKNK Kanna-pryse.

Die pryse vereer jaarliks uitnemende werk by die KKNK.

Die Kanna-wenners in die 15 kategorieë, wat twee nuwe kategorieë vir tegniese uitnemendheid en beste teater­ont­- werp insluit, is op 13 Mei by ’n spesiale geleentheid in Kaapstad bekend gemaak.

Bauke Snyman is bekroon met die Kanna vir die beste nuutgeskrewe teks vir Swerfgoed, wat verlede jaar die aandag getrek het by Kunste Onbeperk se Teksmark.

Nicole Holm en Richard September is ook onderskeidelik aangewys as die beste vroulike en beste manlike byspeler in Swerfgoed.

Swerfgoed word later vanjaar by die Baxterteater aangebied en sal ook te sien wees by die Vrystaat Kunstefees. Dit is ’n ko-produksie tussen NATi, die Baxterteatersentrum, die US Woordfees en die KKNK.

Hierdie lewe, ’n US Woordfees-produksie ter huldiging van Schoeman wat verlede jaar op 1 Mei oorlede is, het aan Wolf Britz die prys vir beste regie én beste teaterontwerp besorg, terwyl Antoinette Kellermann die Kanna vir beste aktrise gewen het.

Mbulelo Grootboom het die Kanna ontvang vir die beste akteur vir sy spel in Gif/Poison/Ithyefu, ’n verhaal van ’n man en vrou wat jare ná hul seun se dood weer by sy graf ontmoet.

Die prys vir die beste teateraanbieding het gegaan aan die plekspesifieke produksie Ons is almal freaks hier -’n ko-produksie tussen die KKNK en die US Woordfees ­- geskryf deur die Hertzogwenner Ingrid Winterbach, waarin sy fokus op die verhaal van Saartjie Baartman.

Babbelagtig, ’n prettige narre-en-mi­miekspel, is bekroon as die beste debuutproduksie, sowel as die beste kindertea­- teraanbieding.

Doos/Box (met Stephanie Gericke en regie deur Llandi Beeslaar) is aangewys as die beste Uitkampteater-produksie, terwyl Du Toit Albertze die Kanna vir die beste opkomende kunstenaar vir Die meermin-kompleks gekry het. Albertze is ook die skrywer van Die meermin-kompleks wat deel was van 2017 se Teksmark.

Uit die geledere van die vereerdes by vanjaar se KKNK het twee kategoriewenners gekom.

Johannes en Collen Maswanganyi, pa en seun, se uitstalling Dance and Carve with My Father het die Kanna vir die beste bydrae tot visuele kuns gewen.

Johannes was die feeskunstenaar en Collen die wenner van Kunste Onbeperk se prys vir ’n nuwe stem.

Lepeltjie vol snare, met Frazer Barry en Hannes Coetzee (wat vanjaar met Kunste Onbeperk se Kruispunt-prys vereer is), is aangewys as die beste musiekproduksie.

Die legendariese oom Hannes is be­kend vir sy “optel-en-knyp”-kitaarspelstyl en die teelepel in die mond waarmee hy klanke optower.

Pieter-Jan Kapp, tegniese bestuurder by die fees wat reeds van die eerste KKNK ’n verbintenis met die fees het, is die eerste wenner van die Kanna-prys vir tegniese uitnemendheid.

Volgens Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, is dit ingestel juis omdat niks van die wonder wat op die verhoë gebeur, moontlik sou wees sonder die harde werk wat agter die skerms gedoen word nie.

’n Spesiale prys vir die beste produksiebemarking  is toegeken aan Moord in Ixiastraat – ’n Bal-oog-en-Brommel-avontuur.
Die prys word toegeken aan ’n produksie wat besonderse bemarkingsinisiatief aan die dag gelê het voor en tydens die fees.

Elke wenner het ’n Kanna-beeldjie ont­werp deur Danélle Janse van Rensburg en ’n kontantprys ontvang.

’n Totale prysgeld van R140 000 is aan wenners uitgedeel.

Die Kanna-kontantpryse is geborg deur Absa, die ATKV, Castle Lager, Huis­ge­noot, Kunste Onbeperk, Media24, NATi, Sarie en Ton en Anet Vosloo.

• Die KKNK vier volgende jaar sy kwarteeufees en dié 25ste fees gaan op luistterryke wyse op Oudtshoorn gevier word!
Die feesdatums is van 21 tot 27 Maart 2019.