Vetplantfees dié naweek op Calitzdorp

Deur Angelique Erasmus
ALLE paaie vir vetplantliefhebbers lei dié langnaweek na Calitzdorp waar die Vetplantfees vanjaar die tweede keer aangebied word.

Verlede jaar se eerste fees was ’n baie groot sukses.

Die Vetplantfees skop Saterdag, 22 September, af en duur tot Maandag, 24 September.

Die organiseerders wil dié fees ’n jaarlikse instelling te maak, waar vetplantgeesdriftiges hul liefde en passie vir vetplante met ander kan deel.

Uitstallers kom van regoor Suid-Afrika en ons buurlande, en daar sal vetplante te koop aangebied word.

Skaars vetplantspesies sal voorts Sondag om 15:00 by ’n veiling te koop aangebied word.

Illustrasies van bekende botaniese kunstenaars sal te koop wees, terwyl werkswinkels – onder meer oor hoe om vetplante te kweek en dit in potte te plant – aangebied sal word.

Toegang tot die fees is gratis.
• Twee lede van die Vetplantfees se reëlingskomitee, Buck en Yvonne Hemenway, het ’n interessante geskiedenis.

Die Hemenways wat deesdae in Calitzdorp woon, het ’n aantal jare gelede vanuit Kalifornië in die VSA na die Klein Karoo verhuis.

Hulle het Calitzdorp juis leer ken as gevolg van hul liefde vir vetplante.

Die egpaar kweek al 30 jaar lank vetplante en kan hier in die Klein Karoo daardie liefde van hulle met oorgawe uitleef.