Calitzdorp vier weer Bloeiselfees op 1 en 2 September.
CALITZDORP bied eersdaags – op 1 en 2 September – weer sy jaarlikse Bloeiselfees aan.
Begin September is die appelkoos- en perskebome vol in die blom. Dié lentebloeisels kondig elke jaar die begin van ’n nuwe seisoen aan vir die vrugte- en wynbedryf in die dorp.
De Krans Wynkelder het ’n hele rits bedrywighede vir die naweek van die Bloeiselfees saamgestel:
• Die Bloeiselfees by De Krans skop op Saterdag, 1 September, af met ’n Wingerd-pretdraf (of stap) deur die wingerde en vrugteboorde. Deelnemers kan kies tussen die 5 km- of 10 km-roete. Daar is heerlike wynpryse te wen in die verskeie kategoriëe. Besprekings is noodsaaklik.
• Gebruik die geleentheid om tussen die vrugtebome van De Krans rond te loop om die lentebloeisels van naby te sien en te fotografeer op 1 en 2 September. Groot wynpryse is op die spel vir die mooiste foto’s wat op enige van die dae by De Krans geneem word. Die wenner van hierdie fotokompetisie kry vanjaar sy/haar gewig in wyn van De Krans!
• De Krans bied ook ’n plaasmark die Saterdag aan. Inheemse plante en bome, kruie, vars gebakte brood en ander tuisgemaakte produkte van Calitzdorp, asook wyne van die boetiek-wynprodusente van Calitzdorp sal te koop wees.
• Musiek deur André Combrinck op Saterdag tussen 10:00 en 17:00.
• Die De Krans Bistro en Deli sal oop wees vir ontbyt, middagete of ’n vroegoggend- koppie koffie.
• Op Sondag, 2 September, word ’n vonkelontbyt met lewendige saksofoonmusiek aangebied. Besprekings noodsaaklik. Kontak Bessie Swanepoel by tel 044 2133314 of dekrans@mweb.co.za vir inligting en besprekings.