GARNETT Wicomb (81) is vir die vierde keer gekies om Suid-Afrika op die tennisbaan in die buiteland te verteenwoordig.
Die eerste keer wat hy gekies is, was in 2017 toe hy as lid van die 75 jaar en ouer span in Amerika gaan speel het, en die volgende twee jaar in Kroasië.
“Ek is nou 81 en is gekies vir die 80 jaar en ouer span wat van 8 tot 13 Oktober in Mallorca, Spanje, aan die ITF Masters World Team Championships gaan deelneem. Dit is ‘n besondere eer om op die ouderdom die span te haal en ek sien uit na die toernooi.”, het hy aan Die Hoorn gesê. Hy het verder vertel dat Tennis Suid-Afrika (TSA) die spanne drie maande voor die wêreldtoernooi kies omdat alle kostes deur die speler gedra moet word. Die enigste bydrae van TSA is ‘n sweetpak en tennisklere.
Die groot uitdaging is dus nou om die geld vir sy vliegtuigkaartjie en hotelverblyf (ten minste R25 000) betyds in die hande te kry en daarvoor maak hy staat op die bydraes van diegene wat bereid is om hom te help.
Wicomb is ‘n lid van die Wesbank Tennisklub en die Eden Tennisvereniging. (Deur Lindi Brill)
Wicomb gekies vir SA-span
Garnett Wicomb saam met van die jong tennisspelers van Wesbank Tennisklub. Van links is Nikita Stander, Wicomb en Heike Swart. Foto: Verskaf