Inskrywings vir 2017 se Meiringspoort-wedlope open op 6 Mei

Net na die wegspring van die 12,5 km-wedloop verlede jaar. Foto: Higgo Jacobs

Net na die wegspring van die 12,5 km-wedloop verlede jaar. Foto: Higgo Jacobs

INSKRYWINGS vir die gewilde Meiringspoort-wedlope  oor 21,1 km en 12,5 km open Saterdag 6 Mei om 06:00 vir die atlete wat in 2016 deelgeneem het. Dié inskrywings is oop vir ses dae.

Die wedlope deur die prentjiemooi Meiringspoort vind op 14 Oktober plaas.

Op Saterdag, 13 Mei, word die oor­blywende plekke oopgestel vir atlete wat vir die eerste maal inskryf of verlede jaar in ’n plaasvervanger se plek deelgeneem het. 900 atlete kan inskryf vir die 12,5 km en 2 100 atlete kan inskryf vir die 21,1 km.

Die webtuiste wat die atlete moet besoek is www.meiringspoort21.co. za wat hulle na die entryticket.net portaal sal neem waar inskrywings elektronies gedoen kan word. Die inskrywingsfooi vir 2017 is R150 vir die 12,5 km en R200 vir die 21,1 km. Atlete wat nie ’n 2017 ASA-lisensienommer het nie, sal R35 addisioneel moet betaal vir ’n tydelike lisensienommer.

Daar is ook weer langmou-T-hemde beskikbaar teen R250 elk en ’n warm kombersie teen R55 elk. ’n Skildery ten bate van die Herberg Kinderhuis sal ook uitgeloot word teen R20 per lootjie.
Geen direkte bankdeposito’s of kontant word aanvaar vir die inskryfgelde nie. Alle gelde moet per kredietkaart of aanlyn-bankinbeta­lings gedoen word. Atlete wat suksesvol ingeskryf het, sal per e-pos in kennis gestel word.

Vir enige navrae kontak die ASWD-kantoor by 044 873 0023 (weeksdae 08:00 tot 16:00), Anna-Marie Harris by 044 693 0391 of 083 408 8336 of Des Harris by 044 693 0391 of 083 309 8732. (Berig deur Ben du Preez)