Tuishalfeindstryd wink!

Bradwin Wanies (14) druk een van sy vier drieë Saterdag teen die Maori’s.  Foto: Wyndham Ewerts

Bradwin Wanies (14) druk een van sy vier drieë Saterdag teen die Maori’s. Foto: Wyndham Ewerts

Marvin Barnard, Bridgton se haker, hardloop met die bal.                  Foto: Ebenezer Titus

Marvin Barnard, Bridgton se haker, hardloop met die bal. Foto: Ebenezer Titus

Deur Wyndham Ewerts
DIE A-span van die Bridgton Rugbyklub het Saterdag op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) in ’n eensydige SWD Premierligawedstryd die A-span van die Maori’s van George met 63-7 oordonder.

Met dié oorwinning het Bridgton feitlik verseker dat hulle hul halfeindstryd op hul tuisveld sal speel. Hulle moet Saterdag op George in hul wedstryd teen Crusaders slegs ’n enkele ligapunt kry om ’n tuishalfeindstryd te verseker.

Hul wedstryd teen Crusaders, vir wie ’n half-eindstryd neusie verby is, is hul laaste wedstryd voor die uitspeelrondes.

In Saterdag se wedstryd teen die Maori’s het albei spanne met die bal gehardloop, maar kon die Maori’s nie hul man staan in die vastespel nie.

Bridgton se vleuel Bradwin Wanies het die eerste punte van die wedstryd aangeteken met twee vinnige drieë binne die eerste 15 minute van spel.

Die veelsydige heelagter Anver Venter het albei drieë verdoel om die telling 14-0 te maak.
Dit het egter nie die span van die Maori’s van stryk afgebring nie deurdat hul skrumskakel Shane Afrika kort daarna ’n drie in die hoekie gaan druk het. Jacobus Splint (losskakel) het verdoel.

Bridgton se skrumskakel Graeme September het voor halftyd nog ’n drie gedruk ná goeie voorspelerspel deur Gavin Mooi (loskopstut). Venter het verdoel vir die rustydtelling van 22-7.

In die tweede helfte het Bridgton die krane behoorlik oopgedraai en die Maroi’s se verdediging telkemale tot die uiterste beproef. Ná volgehoue druk het Algernon Waarts, kaptein en agtsteman, die bal in die hande gekry en deur die middeveld gestoomroller vir ’n pragdrie wat deur Venter verdoel is.

Bridgton het nou die oorhand gehad en is drieë gedruk deur Wayne Julies (plaasvervanger-flank), Wanies, wat nog twee drieë by sy eerste twee drieë gevoeg het, en Jolan September (flank). Gino van Vuuren (losskakel), wat die skopwerk pale toe oorgeneem het, het al vier dié drieé verdoel. (55-7)

Met die wedstryd in die sakkie het Bridgton se afrigter Keith Meyer die sterspelers Waarts, Venter en Wanies vervang, waarskynlik om hul ruskans te gee vir die halfeindstryd op 19 Augustus.
Bridgton se beweeglike slot het die laaste punte van die wedstryd aangeteken toe hy net voor die eindfluitjie doodluiters deurgedraf het vir ’n drie wat Adrian Booysen (binnesenter) verdoel het.

• Bridgton B het die Maori’s met 41-7 verslaan. Bridgton se drieë is gedruk Hershelle America (13), Duzill Avontuur (11), Blaine James (8), Lee Henry Meyer (vleuel) en Wayne Julies (flank) wat twee keer agter die doellyn gaan kuier het. Joseph Saptou (10) het vier drieë verdoel en een strafdoel aangeteken.

• Bridgton C het die Maori’s met 42-0 verslaan. Die wenspan se drieë is gedruk deur Adian Murphy (8), Andile de Vos (3), Cheslin Wagenaar (flank), Andre Willemse (vleuel) en Anrich Da-niels (13) wat twee keer gaan druk het. Merkayvin Micheals (15) het met vyf doelskoppe geslaag en Jeandre Piedt (12) met een.