Speke sing deur Oudtshoorn tydens Cape Pioneer Trek

Die wegspring van die 5de fase van die Cape Pioneer Trek vanaf Langenhoven Gimnasium. Onder is die twee Oudtshoorniete, Louis Visser Jnr en Marchal Hendriks, wat die algehele tweede plek in die Mans Ope kategorie losgetrap het. Foto’s: Lindi Brill en Facebook

DIE Momentum Mediese Skema Cape Pioneer Trek, aangebied deur Biogen, is een van die hoogtepunte van die internasionale bergfiets-kalender.

Dit is een van die gewildste bergfietswedrenne van die jaar, met meer as 250 fietspanne wat in pare deelneem aan die nou 7-dag wedren. Hierdie wedren, wat die afgelope 8 jaar van krag tot krag gegaan het, belowe elke ryer, beide plaaslik en internasionaal, die ware Afrika-ervaring.

Die wedren was van 3 – 9 September, met die eerste skof se wegspring wat in George plaasgevind het. Die laaste dag se wegspring was in Oudtshoorn by Langenhoven Gimnasium en hulle het geëindig voor die Queen’s Hotel. Die algehele afstand oor die sewe dae was 462 km gewees.

Die Imbuko Giant and Efficient Infiniti Insure spanne het die titels in Oudtshoorn op Saterdag, 9 September verower. Marco Joubert en Wessel Botha is uitgedaag in ‘n naelloop-einde deur Valley Electrical Toyota se Gert Heyns en Tristan Nortje in die laaste been, maar het geen tyd verloor nie en die algehele oorwinning behaal met ‘n gerieflike voorsprong van 7 minute en 31 sekondes.

In die UCI vroue-kompetisie het Kim le Court en Samantha Sanders ‘n perfekte sewe dae afgesluit met hul sewende skof-oorwinning. Hulle wentyd was 1 uur, 15 minute en 43 sekondes, oor Sarah Hill en Hayley Smith van Vivovita-Bell.

Twee Oudtshoorniete, Marchel Hendriks en Louis Visser Jnr, het eerste plek in die Ope Mans kategorie op die laaste skof gewen en was algeheel tweede oor die sewe dae. (Deur Lindi Brill)