’n Gedeelte van die geesdriftige skare by Sondag se groot rugby op die Bridgton Sportgronde. Foto: Wyndham Ewerts
IN ’n geskiedkundige toernooi op die Bridgton Sportgronde (Plate) het die Blou Bulle Sondag die Goue Leeus in ’n SuperSport Rugby Challenge-wedstryd met 27-20 geklop en die DHL WP die SWD Arende met 50-3.
Dit was die eerste keer dat al dié spanne op die Plate gespeel het.
Sowat 13000 toeskouers, wat al van 07:00 in die stadion begin instroom het, het die toernooi bygewoon. Aan die begin van die toernooi het Oudtshoorn Rugbyklub se A- en B-span vanaf 10:30 teen hul ewe-knieë van Prins Albert gespeel.
SuperSport het die toernooi in sa-mewerking met die Oudtshoorn Munisipaliteit, SA Rugbyunie en SWD Arende aangebied.
Talle advertensieborde, SuperSport se kommentators, kameramanne en aanbieders het bygedra tot ’n opwindende stemming.
Hennie Baartman, president van SWD Rugby, het die dag as ’n groot sukses beskryf. “Hoewel dit vroeg-oggend gereën het, het die reën mettertyd gewyk en het die mense bly in- stroom by die stadion” het hy gesê.