Seweweekspoort lok baie

Nicol Carstens en Yolandé de Villiers, onderskeidelik mans- en vroue-wenner van die Seweweekspoort Bergfietsuitdaagren.

Fienie Barnard

Deur Higgo Jacobs
SOWAT 1000 bergfietsryers het Saterdag (29 September) in Amalienstein tussen Calitzdorp en Ladismith weggespring vir die Ladismith Kaas Seweweekspoort Bergfietsuitdaagren.

Dit was die sestiende keer dat dié gesogte fiets-ren aangebied is.

Yolande de Villiers van Oudtshoorn wat Suid-Afrika onlangs in die Berg­fietsmarathon Wêreld-kam­pioenskap in Italië verteenwoordig het, het haar vrouetitel suksesvol verdedig toe sy die 85 km-ren in 02:53:09 gewen het.

Die manswenner, Nicol Carstens, se wentyd was 02:47:13.

In die mansafdeling is Carstens gevolg deur Aidan Connelly (02:47:­14), Matthew Keyser (2:48:24), Jean-Paul Gerber (02:50:39) en Johan Coetzee (03:01:04).

In die vroue-afdeling is De Villiers gevolg deur Fienie Barnard (03:07:-47), Mellusca Toovey (03:13:49), Anel Henn (03:49:01) en Liezel Malan (03:54:11).

Fienie Barnard se man, Kobus, het vir die tiende keer deelgeneem en het algeheel 13de geëindig in 03:08:31.

’n Opgewonde De Villiers het ná haar oorwinning gesê dat hierdie een vir haar baie spesiaal was.

“Van die Drylandspan tot die plaaslike kinders wat ons geesdriftig langs die pad toegejuig het, laat die deelnemers so welkom voel,” sê sy.

Die direkteur van Dryland Event Management, Henco Rademeyer, het bygevoeg dat ’n berg­fietsren soos die Seweweekspoort laat die organiseerders en deelnemers jaarliks terugkeer vir nóg een.

Dryland Events Management het 150 skoolkinders geborg om deel te neem aan die fietsren en Rhodes Food Group het die fietsrytoerusting verskaf.