Deur Higgo Jacobs
Oudtshoorn is vanjaar die gasheer vir die 43ste Suid-Afrikaanse Ope Meestersatletiekbyeenkoms wat van Donderdag tot Saterdag, 2 tot 4 Mei in die De Jagerstadion aangebied word.
Meer as 500 atlete, beamptes en toeskouers van regoor die land en selfs vanuit die buiteland word verwag, aangesien dit ’n ope byeenkoms is.
Inskrywings sluit Saterdag, 20 April. Inskrywingsvorms kan afgelaai word vanaf die internet by www.sameestersatletiek.co.za. Besprekings kan nie telefonies gedoen word nie.
Registrasie vind die Donderdag vanaf 06:30 tot 17:00 in die De Jagerstadion plaas en weer Vrydag en Saterdag vanaf 06:45.
Atlete word verplig om Atletiek Suid-Afrika se permanente lisensienommers op hul bors en rug te dra. Die eerste drie atlete in elke item sal ’n SA Meestersatletiekkampioenskapmedalje ontvang.
Die openingseremonie vind Vrydag, 3 Mei, van 12:45 tot 13:30 in die De Jagerstadion plaas. Elke provinsie kan twee verteenwoordigers benoem om aan die vlagparade deel te neem.
Die prystoekenningseremonie vind Saterdag-aand om 18:00 in die Burgersentrum van Oudtshoorn plaas. Die koste beloop R275 per persoon.
Toy Ungerer, meestersatleet en wêreldkampioen van Oudtshoorn, sê sy is vol vertroue dat die baan en geriewe van die De Jagerstadion in ’n goeie toestand sal wees.
“Dit is ’n prestige-geleentheid vir Oudtshoorn en SWD Meestersatletiek en ek glo almal sal hul kant bring,” het sy gesê.
Vir meer inligting stuur gerus ’n e-pos na swdmeestersatletiek@gmail.com of kontak Chris van Wyk by 0824788102.