Maleisiërs onttrek aan klubkampioenskap nadat klubspelers kla

Deur Liesel le Roux
DIE Maleisiese rolbalspan wat ’n maand lank op Oudtshoorn woon terwyl hulle hul voorberei vir volgende jaar se Statebondspele, het hulle aan die All Cape-rolbaltoernooi onttrek nadat spelers van Kaapse klubs gekla het omdat hulle teen die span se internasionale spelers moet meeding.
Die All Cape word sedert verlede week in verskeie dorpe in die Eden Distrik gespeel, onder meer ook Oudtshoorn.

Volgens Japie Combrinck, president van Eden Rolbal en lid van die All Cape-bestuursraad, is die All Cape ’n toernooi slegs vir plaaslike klubspanne. Daar is egter vroeër vanjaar toestemming deur een van die raadslede gegee dat ’n span van Kuala Lumpur aan die toernooi mag deelneem. Die span van Kula Lum­pur was egter nie ’n klubspan nie, maar die Maleisiese rolbalspan wat daar gesetel is.

Hy sê deelnemers aan die vroue­toernooi wat verlede week afgeskop het, het gevoel dat dit onregverdig was dat hulle as klubspelers teen internasionale spelers moes kompeteer.

Van die vroue het na verneem word ’n petisie onderteken teen die deelname van die Maleisiese spelers en gedreig om hulle aan die toernooi te onttrek.

Combrinck sê hy het in die lig daarvan dat die Maleisiese span primêr in Suid-Afrika was om te oefen, hul afrigter, Simon Botha, gekontak en voorgestel dat die span net aan die uitspeelrondes deelneem en nie daarna aan die uitkloprondes nie. So kon die klubspelers dan verder teen mekaar uitspeel. Dit sou ook die oorsese spelers die verleent­heid spaar van ontevredenheid oor hul deelname.

Volgens Botha het hy en sy hulp­afrigters egter na samesprekings besluit dat hulle nie onder die omstandighede kans sien om met die toer­nooi voort te gaan nie en het hulle die span eerder dadelik aan die toernooi onttrek. Die span het vandeesweek voortgegaan om op die Oudtshoorn Rolbalklub se bane te oefen neffens die baan waarop die All Cape-toernooi plaasgevind het.

Prof Stadler van die hoofborg van die toernooi, Personal Trust, sê gerugte dat daar druk was van borge dat die span moes onttrek, is totaal onwaar. “Ons as borg het in elk geval geen mandaat om enige sodanige besluit te neem nie.”
• Botha het die week net lof gehad vir die gasvryheid en vriendelikheid waarmee die Maleisiese span op Oudtshoorn ontvang is.
Hy sê behalwe vir die gasvryheid van die rolbalklub wat hul gasheer is, en ander Oudtshoorniete, het hulle ook groot waardering daarvoor dat die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, hulle persoonlik besoek en verwelkom het, en ook vir ’n toer deur die Kango Grotte en die Cango Wildlife Ranch wat Ian Laubscher van die munisipaliteit vir hulle gereël het.
Die span vertrek Saterdag na Australië.