Pieter Heydenrych en sy vrou, San, het ses maande gelede vanaf Naboomspruit na Oudtshoorn verhuis. Hy is ’n fikse 85 jaar oud en het ’n groot passie vir jukskei, en het ook al die jare aktief deelgeneem aan die sport.
Met hul verhuising na Oudtshoorn het Heydenrych en sy vrou hul kom vestig in die Caves Aftree-oord, en wil graag hul passie vir jukskei uitleef hier in Oudtshoorn. Hulle het gou agtergekom dat die sport nie in Oudtshoorn gespeel word nie, en daardeur het hy die groot dryfveer geword om hierdie unieke en eeue oue sport weer te laat herleef hier in die Grootvoëlparadys.
Met ’n bewusmakingsveldtog het Heydenrych agtergekom dat daar baie belangstelling daarvoor is, maar dat die meeste mense egter nie die spel ken en weet hoe dit gespeel word nie.
Die eerste stap was om bane te kry waar die spel gespeel kan word. Daar is uitgevind dat daar wel jukskei bane by die De Jager sportgronde is, en die munisipaliteit het daarin belê om die putte weer oop te maak as die KKNK verby is, aangesien daar stalletjies op die spesifieke area gaan wees.
Jukskei is ’n spansport wat inheems is aan Suid-Afrika en kan deur mans en vroue van enige ouderdom asook kinders geniet word. Die spel is ’n somersport. Dit bestaan uit twee spanne van vier spelers in elke span, met twee rubber- of houtskeie vir elke speler.
Die skeie word tussen 11 en 16 meter na ’n houtpen in ’n sandput gegooi. Die sandputte het elk ’n lengte van 3 m en die grasbaan tussenin is 5,4 m. Dit werk baie soos rolbal waar die nommer 1 van elke span hul twee skeie gooi, daarna die nommer 2’s, 3’s en 4’s. As die pen raakgegooi word tel dit 3 punte. Skeie wat binne ’n straal van 460 mm van die pen lê, tel een punt. ’n Skof bestaan uit 23 punte. Die span wat aan die einde van die gooibeurt 23 punte het, wen die skof. As albei spanne skof behaal, kry elke span ’n halwe punt.
Jukskei word nie deesdae meer nét in Suid-Afrika gespeel nie, maar is ook al ’n gewilde sport in Namibië, Zimbabwe en Amerika. Die Suid-Afrikaanse Jukskeiraad (tans Jukskei SA) is op 25 Oktober 1940 in Bloemfontein gestig. Jukskei is aanvanklik slegs deur die Suid-Afrikaanse Jukskeiraad beheer, maar met die uitbreiding van die spel na ander lande is die Internasionale Jukskeivereniging (IJV) gestig wat uit vier rade bestaan naamlik Jukskei SA, Die Jukskei-assosiasie van die Verenigde State van Amerika, die Namibiese Jukskeiraad en die Jukskeiraad van Zimbabwe.
Jukskei is ook deel van die Inheemse Spele. In 2023 het die inheemse spelespan van Eden ’n bronsmedalje gewen in die Wes-Kaap provinsiale inheemse spele- toernooi.
Enige belangstellendes kan vir Henry Gerber van Jukskei SA kontak by 073 703 4311, om sodoende verdere inligting via ’n WhatsApp-groep te ontvang. (Deur Lindi Brill)
Jukskei in Oudtshoorn kry nuwe lewe
Pieter Heydenrych (85) wil graag sien dat jukskei weer ’n sport in Oudtshoorn raak wat deur jonk en oud geniet word. Foto: Verskaf