George klop Wesbank op Oudtshoorn

Deur Garnett Wicomb
DIE span van die George Tennisklub het sy onoorwonne status in 2019 se eerste gemengde liga van die Eden Tennisvereniging behou toe hy die span van Wesbank Tennisklub Saterdag op Oudtshoorn in ’n spannende wedstryd met 4-2 geklop het.

Die tuisspan het goed begin toe Jacques de Beer en Christine van Coller vir Charl Opperman en Karin Deltenre in drie stelle met 6-3, 4-6, 6-4 ge-klop het.

George het sake gelyk gemaak toe Helgard Muller en Jackie Jones vir Pietman Schoeman en Rida Bester met 6-0, 6-3 verslaan het.

Die twee plaasvervangers van Wesbank, Paul Fourie en die 14-jarige Patricia Esterer, het goed vertoon in hul kragmeting met Willie Breytenbach en Sonja Botha, maar met 3-6, 3-6 die onderspit gedelf het.

Die wedstryd tussen die eerste gekeurdes, De Beer en Van Coller van Wesbank en Muller en Jones van George, is deur laasgenoemde paar met 6-3, 6-3 gewen wat aan die besoekers ’n wen- voorsprong van 3-1 besorg het.

Schoeman en Bester het die agterstand laat krimp toe hulle vir Engelbrecht en Botha met 6-2, 6-4 geklop het.

Opperman en Deltenre was egter te sterk vir Fourie en Esterer.

Hulle het met 6-3, 6-2 gewen om aan George die oorwinning van 4-2 te besorg.