Debra Hyde wat tot voorsitter van Eden Seniors Tennisvere-niging herkies is. Foto: Garnett Wicomb
DEBRA Hyde van die Knysna Tennisklub is op die 23ste algemene jaarvergadering van die Eden Seniors Tennisverening in die klubhuis van die George Tennisklub onbestrede tot voorsitter herkies.
Die vise-voorsitter, Des Sampson van Mosselbaai, en die sekretaris, Sonja Botha van die George Tennis-klub, is ook albei onbestrede herkies.
Karin Deltenre (George Tennis-klub) is tot tesourier verkies terwyl die 190’s-organiseringskomitee be-staande uit Ernst Kok, Hanlé Kok en Hugo van der Berg van die Wesbank Tennisklub ook behou is.
Ayanda Nowtshiga van die Knysna Tennisklub is as bykomende be-stuurslid verkies.
Hyde was in haar jaaroorsig vol lof vir die Eden-spelers wat verlede jaar Suid-Afrika in die buiteland verteenwoordig het, naamlik Christine van Coller, Rida Bester en Sonja Botha wat in Miami, Amerika, gaan mee-ding het en June Smith, Elmarie Lategan en Garnett Wicomb wat in Or- lando, Florida, gaan speel het.
Van Coller, Bester en Hyde is pas ook gekies om Tennis Suid-Afrika se 50+-span in Augustus in Duitsland te gaan verteenwoordig.
Volgens Hyde is dit vir ’n klein provinsie soos Eden ’n besonderse prestasie en veer in die hoed om soveel spelers in die SA spanne te kry. Ses spelers beklee tans ook eerste plekke op TSA se ranglys.
Hulle is Callie Matthee (80+ enkel- en dubbelspel), Garnett Wicomb (75+ enkelspel), Daan Spengler (70+ enkel- en dubbelspel), Elmarie Lategan (70+ dubbelspel), Christine van Coller (50 + enkel- en dubbelspel) en Rida Bester (50+ dubbelspel).
Elmarie Lategan (70+ enkelspel) en Hanlé Cronje (65+ dubbelspel) beklee tweede plekke op die ranglys.
Hyde het ook al die Eden-spelers bedank vir hul bydraes om van die 190’s-spankompetisie ’n groot sukses te maak. Dit is die unie se vlagskipkompetisie met sowat 120 spelers wat daaraan deelneem.
Sy het ook die tennisklubs van George, Hartenbos, Mosselbaai en Wesbank op Oudtshoorn wat die toernooi huisves bedank, asook die skole wat hul bane beskikbaar stel, naamlik Langenhoven Gimnasium, die Hoërskool Oudtshoorn, Punt, York, Van Kerwel, Outeniqua en PW Botha.