Baanrekord spat by 36ONE bergfietsren

Deelnemers (bo) aan die 36One MTB Challenge bergfietswedren is bederf met van die mooiste uitsigte wat die Klein Karoo kan bied. Onder: Yolande de Villiers van Oudtshoorn was weer eens die wenner van die solo-vroue fietsren. Foto’s: Shift Media Co.

DIE naweek se 36One MTB Challenge bergfietswedren het oudergewoonte gesorg vir aksie van top-gehalte, met vanjaar se mans-wenner – Drikus Coetzee van Namibië – wat die baanrekord laat spat het en Oudtshoorn se eie Yolande de Villiers wat weer koning, of is dit nou koningin, gekraai het onder die vroue.

Die uitmergelende bergfietswedren, wat deelnemers tussen Vrydag (13 Mei) en Saterdag (14 Mei) oor ’n afstand van 361 km byna reg rondom die Klein Karoo geneem het, sluit onder meer die Rooibergpas in met sy 5 000 meter se strawwe klim.

Coetzee, bekend as ’n meervoudige Namibiese nasionale kampioen, het volgens die organiseerders – Dryland Event Management – van vroeg af sy stempel op die fietsren afgedwing.

In teenstelling met sy teleurstellende vertoning van 2021 het hy vanjaar die baanrekord verpletter. Sy tyd van 13 ure, 17 minute en 50 sekondes was byna nege minute vinniger as die vorige rekord.

De Villiers, plaaslik en nasionaal bekend as bergfietswedrenkampioen, het op haar beurt teruggestaan vir niemand nie, al was haar wentyd vanjaar ’n uur stadiger as haar 2021-rekordtyd. Sy het die fietsren vanjaar in 16 ure, 18 minute en 10 sekondes voltooi, byna twee en ’n half ure voor haar naaste teenstander!

Verdere uitslae volg, van eerste tot derde plekke:
Solo Mans – Coetzee, Dusty Day (14:29:00), Freddie Visser (14:31:51).
Solo Vroue – De Villiers, Alma Colyn (18:41:08), Bianca Cooper (19:03:21).

Aflosspanne (vier per span) – RDX Powerbar (13:17:51), JD Elliot Cycle (13:54:55), Cycle4Diabetes (14:45:28).

Mansspanne – EnduroPlanet Racing (15:48:23), Wellington Wines (16:12:46), Kirmack 2 (19:30:58).

Vrouespanne – Young & Brave (22:39:50), Kakiebos 2 (23:01:58), Raffa Angels (23:55:40).

Half-solo Mans – Warick Minkley (7:03:26), Eugene du Plessis (8:01:20), Raymond Odendaal (8:04:59).

Half-solo Vroue – Maureen Jordaan (9:00:37), Angelique Nel (9:44:56), Elzaan van Blerk (10:09:42). (Deur Stefan Skapie Goosen)