Oudtshoorn jongklomp wys hul kookvernuf

Bo: Dié blomhoedjies behoort aan Bernalee Hifke, Tamia Trimm en Ruby-Ann van Heerden, graad 11-leerders van die Hoërskool Oudtshoorn wat hul groep die Self Raising Flowers genoem het.
Foto Angelique Erasmus

Een van die laerskoolspanne wat verlede week aan die Masterchef-kompetisie by die Hoërskool Oudts­hoorn deelgeneem het. Die span, bekend as die drie Macaroons, is van links is Anandie de Waal, Ané Terblanche en Ella Rossouw. Hulle is graad 7-leerders van die Laerskool Wesbank. (Foto verskaf.)

Deur Angelique Erasmus
MASTERCHEF-KOORS het ver­lede week hoog geloop by die Hoër­skool Oudtshoorn toe leerders van verskeie hoër- en laerskole van die dorp aan die Struisies Masterchef-kompetisie deelgeneem het.

Dit is die vierde jaar wat die skool dié kompetisie onder die wakende oog van Hannelie Human wat verbruikerstudies by die skool gee, aanbied.

Graad 5- tot graad 11-leerders van die Laerskool Wesbank, Laerskool Laurus, Laerskool Van Reede, Hoër­skool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium het deelgeneem. Elke span het uit drie lede bestaan wat volgens ’n tema moes aantrek.

Volgens Human was elke dag van die kompetisie, wat die hele week geduur het, se opdrag anders, en het leerders eers op die dag die aard van die uitdaging uitgevind.

Bestanddele wat alles gebruik moes word, is aan die leerders verskaf. Addisionele bestanddele was ook beskikbaar wat volgens behoefte gebruik kon word.

Die graad 10- en 11-leerders moes byvoorbeeld Donderdag eetgoed vir ’n semi-formele funksie maak, en op ’n bord rangskik.

Spanne het daagliks om 14:00 begin, en moes teen 17:00 klaar wees. Hul kos is dan deur verskeie beoordelaars beoordeel, met Elmarie Spies as hoofbeoordelaar.

Ander beoordelaars was Riana van Deventer, Daniellia Strydom en Hannetjie Joubert.

Volgens Ella Rossouw, een van die leerders van Laerskool Wesbank wat deelgeneem het, het hulle die kompetisie ongelooflik baie geniet.

“Ek het so baie nuwe goed geleer, en sal beslis dit by die huis toepas,” sê sy.

• ’n Hoenderpot Masterchef-kompetisie vir volwassenes word vir 15 November beoog, waaraan spanne met drie lede elk kan deelneem. Die hoenderpotte wat die deelnemers maak, sal na die tyd te koop aangebied word.

Belangstellendes kan die Hoër­skool Oudtshoorn kontak vir meer inligting of om ’n span in te skryf.