Leerders van hier kry kans van ’n leeftyd

Zola Budd, Rowan Titus en Meryl Daniels. (Foto verskaf)

KANNALAND kan ook uitvoerprodukte lewer. So kan die geleentheid waar twee leerders uit Kannaland nou in Stellenbosch hul sporttalente gaan uitleef, beskryf word.

Shonique Rothman (13) en Rowan Titus (14) is deur die bekende Endurocud Akademie geïdentifiseer.

Die akademie, wat in Stellenbosch geleë is, staan onder leiding van die veteraanatleet, Elana Meyer. Shonique en Rowan se talent is deur die wêreldbekende Meyer by ’n plattelandse byeenkoms raakgesien. Toe die twee onlangs in Stellenbosch aangemeld het, was die verbasing groot toe hulle ook die legendariese Zola Budd ontmoet het.

Rowan en Shonique, albei nou in graad 8, sê hulle kon hul opgewondenheid nie beheer toe hulle Budd ontmoet nie.
Meryl Daniels, bekende in sport­kringe wat hulle na Stellenbosch ver­ge­sel het, sê; “Hulle sal vir die vol­gende vyf jaar verbonde wees aan die Hoërskool Stellenbosch. Wat ook fantasties is, is dat albei ’n beurs ontvang het vir hul hoërskoolloopbaan. Hulle sal nie net sport beoefen nie, maar ook akademies onderrig word.”

Shonique, wat volgens Daniels buitengewone atletiektalent het, het gesê dat sy haar skool se leuse, ‘Net ons Beste’ uitleef.

“Ek wil ook eendag beroemd word!” sê sy.

Rowan was ewe gefokus. “Dis my kans en ek belowe ek gaan die beste hiervan maak!” (Deur Deon Meyer)