Die Oudtshoorn Besigheidskamer se netwerkaand op 29 Mei het plaaslike sakelui ’n gesellige netwerkgeleentheid gebied, maar ook Jakhals Events se indrukwekkende vermoëns ten toon gestel.
Die geleentheid, wat op Laerskool Wesbank se sportgronde aangebied is, is deur die span van Jakhals Events, en ook die aand se borg, omskep in ’n elegante en stylvolle onthaalruimte. ’n Markiestent met vloer is opgeslaan en smaakvol versier met keurige tafeldekking, draperings en selfs glansryke kandelare wat ’n besonderse atmosfeer geskep het.
Die aand het bewys dat Jakhals Events veel meer doen as net die aanbieding van sportgeleethede waarvoor hulle bekend is. Die Oudtshoorn-gebaseerde onderneming bied ’n wye reeks dienste, waaronder geleentheidsbeplanning, registrasiebestuur, logistiek, infrastruktuurverhuring, bemarking, handelsmerk-aktiverings, veiligheidsbeplanning en die volledige uitvoering van geleenthede van begin tot einde.
Benewens die netwerkgedeelte van die aand, het lede van die Oudtshoorn Rotariërs ook hul jongste internasionale gemeenskapsprojek bekendgestel. Die projek fokus op die opknapping en vernuwing van die speelterreine by Eljada Kairos-skool asook die Nasorg. Die doel is om veilige, stimulerende en toeganklike speelruimtes vir die kinders te skep, en die Rotariërs het die sakegemeenskap uitgenooi om by die inisiatief betrokke te raak.
Met die stylvolle aanbieding deur Jakhals Events en die bekendstelling van ’n projek wat ’n blywende verskil in die gemeenskap kan maak, was die aand ’n suksesvolle kombinasie van sake, samewerking en gemeenskapsbetrokkenheid.
Jakhals-effek by OBK netwerkaand
Foto: Knipoog Fotografia