DIE reaksie van mense van dwarsoor Suid-Afrika op hul insiatief om eenmiljoen spekbome te laat plant, is oorweldigend, sê Rozanne Nel, bemarkingsbestuurder van Boplaas.
Boplaas, bekende wynkelder in Calitzdorp, takel nou ook die stryd teen aardverwarming met ’n projek om mense te inspireer om een miljoen spekbome voor 2025 te plant.
“Die terugvoer is oorweldigend en ons is baie opgewonde hieroor. Vir elke twee bottels wyn wat Boplaas verkoop, plant ons self ’n spekboomsteggie op ons veld of stuur ons dit aan mense dwarsoor Suid-Afrika om ons daarmee te help.”
Op Boplaas, waar die bewaring van die omgewing prioriteit geniet, word reeds meer as 2 200 ha veld waar spekbome (Portulacaria afra) natuurlik voorkom, bewaar.
As deel van die Boplaas-inisiatief sal spekboom-steggies vanaf die plaas asook Boplaas se proelokaal in Klein Brakrivier versprei word.
“Ons het ons daartoe verbind om eenmiljoen spekboomplante te vestig voor 2025,” sê Rozanne Nel.
“Die wêreld is op ’n draaipunt en ons moet alles in ons vermoë doen om ’n klimaatkatastrofe te verhoed. Die spekboom wat inheems is aan ons omgewing is ’n koolstof-wonderwerker. Dit kan tussen 4 en 10 ton koolstof per hektaar per jaar absorbeer, wat dit vir die hoeveelheid water wat dit gebruik die doeltreffendste koolstof-”annekseerder” maak.
Spekbome pas maklik by verskillende omgewings aan en floreer bykans oral. Dit is ’n pragtige struik en maak wonderlike heinings. Dit kan in die veld, beddings en potte geplant word, gebruik min water en verg min moeite.
“As ons 1 000 mense kan kry wat 100 spekbome kan plant, maak dit 100 000 spekbome wat klimaatverandering kan help beveg.”